Nazisme: Tree ook op teen studenteraadsvoorsitter by Wits

2015-04-29
Dr Pieter Mulder

Mnr. Mcebo Dlamini, Studenteraadsvoorsitter by Wits, se uitlatings oor Hitler en Nazisme is uitdagend, uiters onsensitief en reflekteer ernstig op die vlak van opleiding by van ons universiteite.

Die feit dat hy verder wit persone uitsonder wat elk ʼn “element” van Hitler in hom of haar het, is rassisme en waarskynlik haatspraak.

Die VF Plus gaan ʼn klagte oor mnr. Dlamini se opmerkings by die Menseregtekommissie lê. As hierdie tipe uitsprake sonder teenspraak net so gelaat word, sien die studente dit as ʼn kopknik en aanmoediging. Daarom wag die VF Plus ook op die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, se reaksie op die uitsprake.

Verlede jaar toe ʼn deel van die koshuisgroet van dames van die NWU-Puk kampus die uitsteek van hulle arms na die koshuis was, het dit in die media ontplof as Nazisme. Die naïewe dames se ontkenning dat dit die idee agter die groet was, is nie aanvaar nie.

Minister Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys het persoonlik in die NWU geval ingetree met verskeie mediaverklarings teen die universiteit en die studente. Dit het uiteindelik uitgeloop op die Wessels-kommissie van ondersoek by die NWU.

Waarom wil dit voorkom asof een stel reëls vir die Wits-studente geld en ʼn ander stel reëls vir die NWU-Pukstudente?

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 777 0202