Nazir Alli-uitlatings is ’n oortreding van Verbruikerswet

2014-02-18
Adv Anton Alberts

“Die erkenning vandag deur mnr. Nazir Alli, die hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL), voor die parlementêre portefeulje komitee oor vervoer dat die rekeningstelsel van die e-tolstelsel op sodanig wyse funksioneer om verbruikers daartoe te beweeg om vir e-skyfies te registreer, is ‘n duidelike verbreking van die Wet op Verbruikersbeskerming, 68 van 2008,” sê adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder oor vervoer vir die VF Plus.

“Die feit dat daar verskillende tariewe gehef word vir verbruikers met e-skyfies aan die een kant en verbruikers sonder die e-skyfies andersins, is onregverdige diskriminasie wat deur die Verbruikerswet verbied word. Mnr. Alli het gesê dat hy nie verstaan waarom verbruikers nie vir e-skyfies registreer nie ‘omdat verbruikers sonder e-skyfies hoër pryse betaal en ook nie in aanmerking kom vir afslag nie’. Art. 48(1)(a)(i) van die Verbruikerswet verbied onredelike en onregverdige prysvasstelling en SANRAL oortree hierdie artikel.

“SANRAL erken ook nou dat hy padgebruikers dwing om vir e-skyfies te registreer. Art. 40 van die Verbruikerswet verbied diensverskaffers om geweld te gebruik om verbruikers te kry om van hul dienste gebruik te maak. Mnr. Alli se kommentaar bevestig dat SANRAL die rekeningstelsel gebruik om padgebruikers te dwing om vir e-skyfies te registreer.

In sy voorlegging voor die komitee het mnr. Alli ook gesê dat alle inligting wat SANRAL bekom het oor onwettige motors wat op die paaie is, aan die relevante wetstoepassingsowerhede oorhandig gaan word. Volgens SANRAL is daar verskeie motors wat duplikaat nommerplate het of selfs geen nommerplate het wat van die e-tolstelsel gebruik maak. Hierdie inligting wat SANRAL bekom het deur die implementering van die e-tolstelsel sal, volgens Alli, aan die nodige wetstoepassingsowerhede oorhandig word.

Die VF Plus is ten gunste daarvan dat onwettige motors en onwettige padgebruikers voor stok gekry moet word. Sou SANRAL egter die inligting aan wetstoepassingsowerhede oorhandig sou die agentskap buite die voorskrifte van die SANRAL-wet optree. Dit is nie binne die SANRAL-wet se voorskrifte vir die padagentskap om inligting aan derde partye oor padgebruikers van die e–tolstelsel aan wetstoepassingsagentskappe te gee nie.

“SANRAL en mnr. Nazir Alli het duidelik geen respek vir die wette van die land nie en skroom nie om hierdie wetgewing te oortree nie. Die VF Plus gaan daarom die Verbruikerskommissie nader om ondersoek in te stel na die uitlatings van Nazir Alli vandag. Die uitlatings sal as verdere bewyse dien van SANRAL se oortreding van die Verbruikerswet en die VF Plus sal verdere klagtes oor die oortreding van die Wet by die Verbruikerskommissie teen SANRAL indien,” sê adv. Alberts.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117