’n Party wat die politieke debat verloor, raak beledigend teenoor ander partye

2014-05-05
Rdl André Fourie

Wanneer ‘n party die politieke debat verloor is sy enigste verweer gewoonlik om teenstanders aan te val en te verkleineer, sê mnr. André Fourie, die VF Plus se premierskandidaat vir die Wes-Kaap en raadslid vir die Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie het in ‘n toespraak in Tulbagh gesê die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, kry duidelik die boodskap dat baie kiesers wat hul ‘stemme geleen’ het aan die DA in 2009, die VF Plus nou as alternatief kies.

Hy het gesê dit moet gesien word as die rede agter die persoonlike aanval op dr. Pieter Mulder en die VF Plus.

“Waarom veg sy met die VF Plus en nie met die ANC nie? In die onlangse TV-program Robinson Regstreeks het sy slegs die EFF uitdruklik as ‘n moontlike koalisievennoot uitgeskakel, maar die deur oopgehou vir ’n moontlike koalisie met die ANC in Gauteng.

“Dit word moontlik gedoen onder druk van die DA se sogenaamde ‘Swart Koukus’. Die spanning in die DA se binnekringe en die druk wat die ‘Swart Koukus’ op Zille en die DA oor beleidsbesluite plaas, is alom bekend en die media het daaroor gerapporteer.

“Die tyd het ook aangebreek dat sy verduidelik aan wie al die senior DA oud-parlementslede, Zack de Beer, Sandra Botha, Douglas Gibson, Sheila Camerer en Tony Leon verslag gedoen het as gesante van die ANC-regering toe hulle diplomatieke poste aanvaar het as ambassadeurs.

“Dit is wyd bekend dat nog ‘n senior DA-parlementslid, Dene Smuts, ook ‘n pos as ambassadeur gaan kry na die verkiesing.

“Zille gebruik haar aanvalle op ander partye as weerligafleier om nie te praat oor die DA se steun aan regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en die heroopstel van grondeise nie. Dit nadat dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, man-alleen teen Zuma standpunt hieroor ingeneem het.

“Die DA pas self regstellende aksie slaafs toe in die Stad Kaapstad en die statistiek hieroor is in die openbare domein. Die kiesers sal gewis Woensdag by die stembus hieroor ‘n oordeel fel,” sê mnr. Fourie.

 

Kontaknommer: 083 441 9262