'n Ongesonde gesondheidstelsel kan meer kwaad as goed doen

2015-05-05
Adv Anton Alberts

ʼn Gesondheidstelsel wat nie behoorlik funksioneer nie, doen meer kwaad as goed, en alhoewel die Eed van Hippocrates bepaal dat pasiënte in die eerste plek nie leed aangedoen moet word nie, beskou baie mense veral staatshospitale as plekke waarheen siekes bloot gaan om te sterf, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor gesondheid.

Adv. Alberts sê in Amerika word bereken dat meer mense in hospitale weens mediese wanpraktyke sterf as aan kanker. Daarom kan ʼn mens ‘net wonder’ wat dié verhouding in Suid-Afrikaanse hospitale is.

Hy sê daar is baie gevalle van mediese nalatigheid, in baie gevalle growwe nalatigheid en selfs opsetlikheid, waar pasiënte leed aangedoen is.

“Die hartseer is dat die gebrekkige ondersteunende stelsels wat hospitale en klinieke behoorlik moet laat funksioneer, soos elektrisiteit- en watervoorsiening, ook ʼn wesenlike rol speel in die sterftesyfer.

“Ek kan hier ʼn voorbeeld noem van ʼn man in Limpopo wie se vrou aan ventilators gekoppel was en wat gesterf het toe die krag afgegaan het.

“Ons versoek daarom in die lig van die huidige omstandighede dat die minister sekerheid gee oor die voorsiening van krag aan alle hospitale en klinieke as ʼn noodsaaklike basiese diens.

“Oor die regulering van medisyne kan geluister word na die wyse woorde van Nicholas Taleb wat gesê het: ‘Daar is ʼn element van bedrog in intervensie... dit is veel makliker om ʼn begrip te verkoop wat lui; ‘Kyk wat ek vir jou gedoen het’, as om te sê; ‘Kyk waarvan ek jou gered het...’.

“Daar moet gewis wyer na medisyne gekyk word en alle produkte wat ons nie volkome verstaan nie, mag nie sonder meer deur regulasie verbied word nie.

“Indien mense die vryheid het om medisyne volgens hulle keuse te gebruik, sal daar minder druk op die gesondheidstelsel wees en sal minder mense hospitaal toe gaan, en sal minder sterf weens mediese nalatigheid,” het adv. Alberts gesê.

Hy het ook gevra dat patentregte op medisyne en generiese produkte hersien moet word om ʼn balans te vind tussen bekostigbaarheid en die vermoë van die industrie om volhoubaar navorsing te doen om nuwe uitdagings wat voortdurend veranderende siektetoestande skep, die hoof te bied.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403