’n Kodesa oor ekonomie nou nodig om Suid-Afrika se ekonomie te red

2014-01-14
Adv Anton Alberts

Die beloftes van pres. Jacob Zuma dat 5 miljoen werksgeleenthede oor die volgende 5 jaar in Suid-Afrika geskep gaan word, is blote retoriek. ‘n Tweede Kodesa, hierdie keer oor die land se ekonomie en die waarde van plaaslike selfstandigheid, is nou nodig om die land weer op die pad na welvaart te plaas, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Hy sê die staat trek geen van die snellers wat nodig is om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei nie en geen geleenthede word vir entrepreneurs van enige ras geskep om tot ekonomiese groei by te dra nie.

Volgens adv. Alberts word tewens die teenoorgestelde bereik met die land se huidige arbeidswette wat die ekonomie en werksgeleenthede doodsmoor en wat daartoe gelei het dat sowat 1,4 miljoen mense hul werk verloor het sedert Zuma in 2009 aan bewind gekom het.

“Die enigste manier hoegenaamd hoe die regering tans nuwe werk kan skep, is deur die reeds oorlaaide staatsdiens uit te brei.

“Net die ANC en die president kan hierdeur bevoordeel word aangesien dit mense afhanklik sal maak van hul werkgewer, die ANC-regering. Dit is egter ‘n kaartehuis wat inmekaar sal tuimel.

“Wat Suid-Afrika nou nodig het, is ‘n tweede Kodesa oor die ekonomie waar alle rolspelers byeen moet kom om te besin oor die land se ekonomie en werkskepping,” sê adv. Alberts.

Oor die moontlikheid van ‘n minimumloon sê hy die mark sal dit nie kan bekostig nie.

“Dit is ‘n eerbare idee, maar onrealisties gegewe die land se ekonomiese groeikoers. Ons beleef ‘n ernstige ekonomiese krisis wat die land op sy knieë kan dwing.

“Leë en onuitvoerbare verkiesingsbeloftes gaan niks bereik nie. Daar moet ‘n Kodesa kom om die ekonomie weer aan groei te kry en armoede uit te wis deur te fokus op plaaslike selfstandigheid,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403