Munisipale store leeg omdat Emfuleni nie betaal nie

2016-02-03
Die Redaksie

Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se 90 dae dienslewering- en herstelprogram wat op 2 Desember verlede jaar van stapel gestuur is, het verander in ʼn dag-tot-dag krisisbestuurprogram, sê Nic Jansen van Rensburg, VF Plus-raadslid in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit.

“Amptenare sit met hul hande in hulle hare - die store is feitlik leeg en om selfs ʼn gloeilamp te vervang, het ʼn uitdaging geword. Alles is die gevolg van diensverskaffers en kontrakteurs wat nie betyds betaal word nie.

“Intussen funksioneer die raad met een onderhoudspan wat herstel- en opgraderingwerk aan 43 pompstasies moet doen wat daartoe lei dat daar slegs 16 pompstasies tans in ʼn redelike toestand is. Sowat 63% van al die 43 pompstasies het meganiese- en elektriese probleme,” sê rdl. Jansen van Rensburg.

Hy het ook na die toestand van die paaie verwys en gemeld dat daar tans geen Asfalt (teersamestelling) beskikbaar is om die paaie te herstel nie. “In Emfuleni ry jy koes-koes aangesien daar bitter min paaie is wat nie groot slaggate het nie.”

Dié slegte nuus kom te midde van die munisipaliteit wat ʼn kwart-miljard rand aan die oprigting van infrastruktuur moet spandeer nadat kontrakteurs bouwerk gestaak en belangrike projekte onvoltooid agtergelaat het. Die Evaton-verkeerskompleks wat teen ʼn bedrag van R6 miljoen opgerig, is maar een so ʼn projek. Volgens kenners kan die gebou inmekaar stort omdat dit op ʼn waterbank opgerig is.

Nog ʼn groot flater aan die kant van die munisipaliteit, is die Sone 10 Sebokeng waterstormkanaal-projek wat belastingbetalers reeds R23 miljoen kos. Die onvoldoende ontwerp wat deur ongekwalifiseerde ingenieurs gebou is, gaan die munisipaliteit ʼn verdere R33 miljoen kos om die brouwerk te herstel.

“Die VF Plus sal voortgaan om die burgemeester van Emfuleni tot verantwoording te roep vir dit wat verkeerd gaan in die dorp”, sê rdl. Jansen van Rensburg.

 

Nic J van Rensburg

083 7311 126

jvrensburgnm@gmail.com