Minister van sport ontwyk steeds vrae oor sokker se Wêreldbeker 2010

2015-06-26
Adv Anton Alberts

Vae of geen antwoorde op parlementêre vrae van die VF Plus aangaande die Fifa/Safa-sokkerskandaal en die bou van infrastruktuur vir 2010 se wêreldbeker-toernooi, laat selfs meer vrae ontstaan oor plaaslike betrokkenheid by ongerymdhede, en die werklike finansiële implikasies vir Suid-Afrika.

Vrae van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport, oor die infrastruktuur vir die toernooi, of dit opgerig is op aandrang van Fifa, die beraamde en werklike koste en uitstaande skulde op die bouwerk, is nie beantwoord nie.

Die enigste reaksie van die minister van sport, Fikile Mbalula op die vrae, is dat hy nie ‘genoeg tyd het’ om die vrae te beantwoord nie, aangesien navraag by al die gasheer-stede gedoen moet word.

Pertinente vrae oor enige geskrewe ooreenkomste betreffende die oordrag van die $10 miljoen na Concacaf tussen Fifa, Safa en die Suid-Afrikaanse regering is eweneens baie vaag beantwoord deur te sê dit was ʼn aangeleentheid tussen Fifa en Safa ‘ter uitvoering van ʼn regeringsbesluit’ om Afrika-diaspora te ondersteun en dat ‘geen geld vanuit die staatskas’ daarvoor aangewend is nie.

Geen antwoord is verskaf op ʼn vraag of die skenking in die parlement bespreek en goedgekeur is nie.

Adv. Alberts sê die VF Plus is nie tevrede met die deursigtige poging van die regering om ʼn sluier oor die aangeleentheid te trek nie.

“Ons sal nie toelaat dat ook hierdie aangeleentheid doodgeswyg en toegesmeer word nie. Die VF Plus sal verdere parlementêre vrae oor die aangeleenheid rig en met enige proses meewerk om die waarheid te ontbloot.

“Hoe ironies is dit dat talle van die Concacaf-lande ver bo Suid-Afrika op Fifa se wêreldranglys is. Concacaf – die Noord-, Sentraal en Karibiese Sokkervereniging, is Fifa se derde mees suksesvolle vereniging met Meksiko sekerlik die sterkste en bekendste van die groep.

“Wil die ANC-regering waarlik hê die publiek van Suid-Afrika moet glo dat ons sterker sokkerlande moet bystaan met $10 miljoen terwyl daar skole op die platteland is waar kinders in puttoilette verdrink en lappe moet oprol om as ʼn sokkerbal te gebruik?

“Die regering sal weldra besef dat ook hierdie aangeleentheid, net soos Nkandla, nie net weggewens kan word nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403