Minister moet ingryp om probleme rondom kieserslyste op te los en 'n verkiesingsdatum te bepaal

2016-03-01
Dr Pieter Groenewald

Die minister van samewerkende regering, David van Rooyen, sal dringend moet seker maak die probleme rondom kieserslyste word opgelos sodat ʼn datum vir die komende plaaslike verkiesing bepaal kan word, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter en LP van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag in ʼn ledeverklaring in die parlement gesê Suid-Afrika se Grondwet bepaal dat ʼn plaaslike verkiesing se datum binne 90 dae moet wees van die datum waarop die vorige verkiesing vyf jaar tevore plaasgevind het. Dit beteken dat vanjaar se verkiesing tussen 18 Mei en 17 Augustus moet wees.

Hy sê indien dit nie in dié voorgeskrewe tydperk kan plaasvind nie, beteken dit die Grondwet sal gewysig moet word.

“Die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die minister om dringend aandag te gee aan die probleme rondom kieserslyste.

“Daar moet duidelikheid hieroor kom sodat die demokrasie in Suid-Afrika bevorder kan word. Indien die Grondwet gewysig moet word, sal dit die indruk skep dat die demokrasie in Suid-Afrika nie voorop gestel word nie en dat die kiesproses ʼn deurmekaarspul is.

“Die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die minister, wat die datum in oorleg met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bepaal, dat ʼn verkiesingsdatum so gou moontlik bepaal word,” sê dr. Groenewald.

Volgens dr. Groenewald het die minister in sy spreekbeurt positief op die VF Plus se versoek gereageer en gesê hy sal als in sy vermoeë doen om seker te maak die verkiesing vind in die voorgeskrewe tyd plaas.