Matlosana verloor Blou Druppel-status

2016-03-16
Die Redaksie

Die Matlosana-munisipaliteit het sy Blou Druppel-status weens sy swak watergehalte verloor. Dit blyk uit die jongste Blou Druppel-verslag vir 2016, sê Michal Groenewald, VF Plus-raadslid vir Matlosana.

Luidens die verslag het Matlosana nie daarin geslaag om te voldoen aan die vereiste standaard vir drinkwater nie en kon hy slegs ʼn puntetelling van 77.29% behaal in vergelyking met die 95.35% in 2012 en 95.38% in 2011.

Midvaal Water wat Matlosana se water voorsien, het wel sy Blou Druppel-status behou met ʼn uitsonderlike puntetelling van 98% wat die hoogste in die land is, sê Groenewald.

“Die swak puntetelling van die Matlosana-munisipaliteit is weens die swak instandhouding van die waterinfrastruktuur en ʼn tekort aan chloor-toediening in die waterstelsel. Daar bestaan geen twyfel nie dat dit ʼn gesondheidsrisiko inhou.

“Aspekte wat die kwaliteit van die water verder negatief beïnvloed, is die groot aantal pype wat gebars is vanweë swak instandhouding. Die verslag meld ook dat daar kennis geneem moet word van die teenwoordigheid van E. coli en sediment wat die water troebel maak.

“Die departement van water en sanitasie vereis dat die munisipaliteit die inwoners moet inlig aangaande hul waterstatus en redes moet verskaf waarom die Blou Druppel-status verloor is. Die werklikheid is dat hierdie probleme oor ʼn lang tydperk ontstaan het.

“Die VF Plus gaan voorstel dat die direkteur en assistent-direkteur van die departement afgedank moet word weens hierdie swak prestasie,” het Groenewald gesê.

 

Michal Groenewald

Sel: 079 409 8342