Matlosana se krag kan dalk afgesny word

2013-11-12
Die Redaksie

Die Matlosana-munisipaliteit loop weereens die gevaar dat sy water- en elektrisiteitstoevoer afgesny kan word. Die raad is weer agterstallig met die betaling van sy rekeninge aan Midvaal en Eskom en die raad se lopende rekening en skuld vir Oktober beloop, net aan water alleen, meer as R30 miljoen.

“Eskom het by ‘n vorige geleentheid gewaarsku dat hy kragtoevoer sal staak indien die Matlosana-munisipaliteit nie sy rekening betaal nie. Dieselfde is gedoen deur die Midvaal Watermaatskappy. Dit is onaanvaarbaar dat die ooreenkomste wat bereik is nie nagekom word deur die raad nie. Indien hierdie dienste gestaak word raak dit elke verbruiker en sal dit ekonomiese bedrywighede, wat die hartklop is van die ekonomie, uiters nadelig raak. Dit is daarom noodsaaklik dat dit ‘n prioriteit van die raad moet wees om hierdie rekeninge te betaal en op datum te hou,” sê Michal Groenewald, Vryheidsfront Plus-raadslid in Matlosana.

“Behalwe vir die ongerief sal Matlosana enorme ekonomiese verliese lei indien die krag afgesit word weens die onverantwoordelike hantering van die belastingbetalers se geld deur die ANC-beheerde munisipaliteit. Dit sal ook beleggingsgeleenthede nadelig beïnvloed. Dit is ironies dat die ANC sopas vanuit China teruggekeer het waar hulle beleggings vanuit China gaan werf het,” sê Groenewald.

Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om druk uit te oefen sodat hierdie rekeninge dadelik betaal word.

 

MICHAL GROENEWALD

Kontaknommer: 079 409 8342