Marknavorsing wys dat publiek e-tol toenemend verwerp

2015-05-25
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering moet nou ernstig besin oor die voortsetting van Gauteng se e-tolstelsel aangesien marknavorsing van Ipsos, waarvan die bevinding pas uitgereik is, die VF Plus se siening bevestig dat die publiek dit toenemend verwerp, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Vervoer.

Me. Kate Slade van Ipsos het vanoggend aan die VF Plus gesê navorsing wat gedoen is voor adjunkpresident Cyril Ramaphosa se aankondiging oor nuwe maatreëls verlede week, het getoon dat 74% van padgebruikers meen daar moet weggedoen word met e-tol in sy huidige vorm.

Sy het die VF Plus se siening beaam dat dwangmaatreëls soos die weerhouding van lisensies vir nie-betalers tot groter verset onder die publiek kan lei wat erger probleme kan skep indien groot hoeveelhede mense bloot met ongelisensieerde motors gaan ry.

Navorsing wat Ipsos in November 2013 gedoen het pas voordat e-tol in werking getree het, het aangetoon dat 58% respondente toe teen die stelsel gekant was. Dit het nou met 16% toegeneem.

Syfers wat die VF Plus verlede week met ʼn parlementêre vraag bekom het, wys ook duidelik dat inkomste uit e-tol sedert Junie verlede jaar skerp afgeneem het.

Adv. Alberts sê dit bevestig die bevindinge van Ipsos se navorsing dat daar ʼn groeiende weerstand teen die stelsel is wat in felheid kan toeneem.

“Die VF Plus doen ʼn ernstige beroep op die regering om die e-tolstelsel te skrap en daarvan weg te stap voordat meer skade aangerig word. Hoe langer dit aanhou, hoe groter gaan die kostes raak wanneer regskostes ter sprake gaan kom,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403