Malakane, Leeto en ANC direk verantwoordelik vir chaos in Matjhabeng

2015-02-16
Wouter Wessels

Matjhabeng-munisipaliteit se erge finansiële krisis, die swak tot geen dienslewering en die vries van die munisipaliteit se bankrekening is as gevolg van jare se swak bestuur en ongerymdhede.

Die VF Plus blameer die vorige munisipale bestuurder, die huidige LUR vir gesondheid, mnr. Benny Malakoane, die vorige burgermeester en huidige LUR vir Sport, Kuns en Kultuur, Me. Mathabo Leeto en die ANC-provinsiale regering vir die totale in duie stort van die munisipaliteit. Tenderbedrog, ongerymdhede, spandabelrigheid en swak bestuur het hierdie munisipaliteit in ‘n onomkeerbare finansiële krisis gedompel.

Die munisipaliteit het sedert 2009/10 geen verbetering ten opsigte van sy ouditopinie gemaak nie en kry jaarliks ‘n weerhouding.

Die munisipaliteit skuld Eskom tans meer as R570 miljoen en Sedibeng Water meer as R1,5 miljard. Die uitstaande debiteure beloop tans meer as R1,6 miljard. Die munisipale bestuurder het onlangs, tydens die provinsiale wetgewer se openbare rekeninge verhoor, te kenne gegee dat meer as die helfte van die uitstaande debiteure nie invorderbaar is nie.

Die swak bestuur en ongerymdhede duur voort sonder dat die ANC-regering daadwerklik ingryp. Die belastingbetalers van Matjhabeng word in die steek gelaat, terwyl die skuldiges deur die ANC tot hoër poste bevorder word waar hulle astronomiese salarisse verdien.

Die VF Plus plaas die skuld vir die totale verval van hierdie en ander munisipaliteite voor die deur van die ANC wat van alle bevoegde amptenare ontslae geraak het en vervang het met hulle onbevoegde kaders. Regstellende aksie is die grootste oorsaak van die totale verval wat daar in munisipaliteite heers. Die VF Plus se standpunt is onomwonde dat meriete die enigste maatstaf moet wees wanneer amptenare aangestel word. Die ANC moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die gemors waarin die munisipaliteite van die hele land hulle bevind.

Die VF Plus eis dat die regering onmiddellik moet ingryp en die munisipaliteit onder administrasie plaas. Die vries van Matjhabeng se lopende rekening sal tot gevolg hê dat die munisipaliteit nie noodsaaklike dienste kan lewer nie en ook nie amptenare se salarisse kan betaal nie. Onskuldige inwoners gaan as gevolg hiervan ly.

 

Sel : 082 674 6670