Maak polisie skoon van misdadigers om weer publiek se vertroue te wen

2015-05-15
Dr Pieter Groenewald

Met ʼn onlangse geskiedenis van misdadige polisiehoofde wat die direkte gevolg van politieke kaderaanstellings is, kan die ANC-regering nie verwag dat die publiek vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet hê nie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Dr. Groenewald het vandag met die polisie se begrotingsposdebat die voorbeelde genoem van kommissarisse Jackie Selebi wat tronk toe is weens misdaad en Bheki Cele wat afgedank is weens die toekenning van ʼn onreëlmatige tender van R500 miljoen.

Hy sê Cele, wat tans ʼn adjunkminister is, beskuldig nou op sy beurt weer die huidige kommissaris, Riah Phiyega, daarvan dat sy die polisie laat ‘bloei’ weens haar onbevoegdheid. In die Wes-Kaap is die huidige polisiekommissaris, Arno Lamoer en drie senior offisiere, nou op 109 strafregtelike aanklagte in hegtenis geneem.

“Hoe kan die publiek vertroue in so ʼn polisiediens diens? Dit is ʼn baie groot onreg teenoor die publiek van Suid-Afrika, maar ook teenoor die goeie en hardwerkende lede in uniform wat wel hul werk pligsgetrou doen en bereid is om hul lewe op te offer vir ons veiligheid.

“Dit is die plig van hierdie regering om te sorg dat die polisie skoongemaak word van hierdie misdadigers.

“Onlangs is Anwa Dramat, die hoof van die Valke, ʼn polisie-spesialis-eenheid, ook afgedank. Ook Robert McBride, die man aan hoof van die polisie se Ondersoekdirektoraat, Opod, waar die publiek kan gaan kla as hulle klagtes het teen die polisie.

“Die VF Plus het gewaarsku om hom nie in daardie pos aan te stel nie, aangesien die hoof van Opod ʼn onbevlekte rekord moet hê. Hy moet ʼn persoon van hoë integriteit wees.

“Nou sê die regering dat hy juis nie integriteit het nie. Dat hy ʼn verslag vervals het om sommige mense te beskerm. U gaan hom nou afdank, nadat ons gewaarsku het. Watter vertroue kan dit vir die publiek skep.

“Die minister moet nou ook sê wat die situasie rondom Dramat is. Die verslag oor hom lui dat sy optrede van so aard was dat hy strafregtelik vervolg moet word. Laat hom strafregtelik vervolg.

“U kan nie belastingbetalers se geld gebruik om hom ʼn goue handdruk te gee en hom nie strafregtelik vervolg nie, want dan gebruik u belastinggeld om iemand te beskerm wat eintlik vervolg moet word,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403