LUR vir onderwys in Gauteng soek pakslae as hy gaan karring met moedertaalonderrig

2015-05-06
Adv Anton Alberts

ʼn Dokument van die Gautengse onderwysdepartement in die VF Plus se besit, dui daarop dat bykans 99% van die skole wat geteiken word om na dubbelmedium oor te skakel weens beweerde onderbenutting, Afrikaanse skole is.

Dit is ʼn duidelike bewys dat ʼn heksejag teen Afrikaanse skole in dié provinsie gevoer word, en die nasionale minister van onderwys, Angie Motshekga, moet streng teen die LUR, Panyaza Lesufi optree, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor onderwys.

Adv. Alberts het vandag met die begrotingspos-debat in die parlement aan die minister gesê dit is een van die talle probleme wat onderwys in die land kortwiek. Ander probleme wat hy aan die minister voorgehou het is:

  • Suid-Afrika steek sleg af teen die res van die wêreld wat prestasie in wiskunde en wetenskap aanbetref. Een van die redes is ʼn gebrek aan gehalte onderwysers hoofsaaklik weens die ongesonde invloed van die onderwysvakbond Sadou wat moraal en produktiwiteit ernstig benadeel. Die minister moet die situasie met die minister van arbeid bespreek om pogings te vind om die invloed van vakbonde te in te perk.
  • Die moontlikheid van geskiedenis as ʼn verpligte vak vir graad 10- tot 12 leerlinge word in beginsel gesteun, maar met die voorbehoud dat dit onderhewig moet wees aan die daarstelling van ʼn kurrikulum wat al die volke en mense se geskiedenis uitbeeld en wat behoorlike konteks gee van besluite en gebeure en wat demonisering verhinder. Die VF Plus wil daarom weet hoe die taakspan saamgestel is en wie daarop dien. Ook of die volke en mense van Suid-Afrika insette sal kan lewer oor die inhoud van die kurrikulum.
  • ʼn Gebrek aan infrastruktuur bly ʼn groot probleem. Dit bring moedertaal-onderrig soos Afrikaans voortdurend in die gedrang weens die druk op skole om leerders van ander tale te akkommodeer. Sodoende word sulke enkelmediumskole vinnig omgeskakel in Engelse skole. Infrastruktuur moet geskep word om die behoud van moedertaal-onderrig te verseker.

Wat die situasie in Gauteng aanbetref sê adv. Alberts dit wil voorkom asof Lesufi ʼn ideologies gedrewe program het om weg te doen met Afrikaanse skole. Van die redes hieroor is dat dit uiteraard nie net Afrikaanse skole kan wees wat sogenaamd onderbenut is nie. Die teendeel is eerder waar en dit is wyd algemeen bekend dat Afrikaanse skole reeds groot getalledruk ervaar.

“Sover bekend is geen behoorlike oudit hieroor gedoen nie en skole is nie hieroor gekonsulteer of geïnspekteer nie. Ons wil graag hê die minister moet kennis neem van die betrokke LUR se duiwelswerk en intree. Uit die inligting in die VF Plus se besit, wil dit voorkom of net 4 uit die 124 skole nie Afrikaans is nie.

“Sy departement het die grootste deel van die Gautengse begroting vir infrastruktuur-uitbreiding ontvang en hy moet beveel word om hom te hou by die Suid-Afrikaanse Skolewet en sy begroting oordeelkundig aanwend om meer enkelmedium skole te bou.

“Alhoewel pak slae in skole nou onwettig is, gaan die LUR pak slae in die hof kry as hy nie onmiddellik sy ongrondwetlike optrede staak nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403