Lidverklaring in parlement: Regering moet weer amptelik statistiek oor plaasaanvalle bekend maak

2015-03-03
Dr Pieter Mulder

Die Vryheidsfront Plus vra al sedert 2007, nadat gestop is met die bekendmaking van amptelike statistiek oor aanvalle en moord op plase, dat dit heringestel word. Daarom verwelkom ons die onlangse bekendmaking van syfers hieroor deur die polisiekommissaris.

Dit is ʼn noodsaaklike stap in die regte rigting. Die stilte hieroor het aanleiding daartoe gegee dat groot verwarring die afgelope jare ontstaan het oor presies hoe ernstig die probleem is en dit het ʼn ongemaklike klimaat geskep aangesien plaasmoorde ʼn emosionele onderwerp is in Suid-Afrika.

Die VF Plus glo dit is in belang van landbou en dat dit weer jaarliks bekend gemaak moet word saam met ander misdaadstatistiek sodat dit onnodige aannames uit die weg kan ruim.

Aansluitend hierby is dit ook nodig dat ʼn duidelike definisie gevorm moet word oor wat ʼn plaasaanval en ʼn plaasmoord is sodat al die betrokkenes wat misdaad rapporteer, die regte statistiek deurgee om sodoende ʼn korrekte en volledige prentjie van dié tipe misdaad te vorm.

Die VF Plus neem met kommer kennis van die groot aantal aanvalle soos deur die kommissaris gemeld, maar is terselfdertyd dankbaar dat daar, indien die syfers korrek is, aansienlik minder moorde plaasvind.

Dit kan beskou word as ʼn teken dat die landelike gemeenskap homself beter beveilig en die VF Plus is van mening dat kostes wat aangegaan word vir beveiliging op plase, aftrekbaar moet wees van belasting.

Volgens syfers in die VF Plus se besit is 1 651 mense op plase vermoor vanaf 1990 tot en met 2013. In Suid-Afrika word 132,8 uit elke 100 000 van die bevolking op plase vermoor. Wat polisiemanne aanbetref, is die syfer 54 en vir die gewone bevolking is dit 31.1.

Die vergelykende en gemiddelde internasionale moordsyfer per jaar is 7 mense uit 100 000.

Dit is dus duidelik dat ons ʼn daadwerklike probleem het in Suid-Afrika, veral wat plaasmoorde aanbetref, en die VF Plus verwelkom enige stap om daadwerklik daaraan aandag te gee.

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670