Lidverklaring in die parlement: Klasaksie eis teen Transnet deur Transnet-pensioenarisse

2015-06-09
Adv Anton Alberts

Die Vryheidsfront Plus gee met genoeë kennis dat die Transnet-pensioenarisse se siviele eis teen Transnet en die regering verlede Vrydag geloods is. Dit is die grootste eis in die geskiedenis van Suid-Afrika. Nadat die groepsgeding- of klasaksie-aansoek deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof aan die pensioenarisse toegestaan is, moes die pensioenarisse die volgende stap neem deur die eis vir die stroping van hulle pensioenbates en nie-betaling van skulde in te stel. Die proses is nou suksesvol afgehandel.

Hierdie eis spruit voort uit die hardkoppige volharding van Transnet om nie aan die pensioenarisse hulle pensioen te betaal waarop hulle geregtig is nie. Dit is hartseer dat Transnet en die regering nie hulle beloftes wil nakom aan mense, wit en swart, wat gehelp het om Transnet op te bou tot die reus wat hy vandag is nie.

Ons neem ook met kommer kennis dat dieselfde bestuurshoof wat tot onlangs aan die stuur van Transnet was en met sy arrogansie die Transnet-pensioenarisse belaster het as voorheen bevoordeeldes wat hy in die strate op revolusionêre wyse sal opponeer, nou aan die hoof staan van ESKOM. Hy het alreeds op arrogante wyse uitsprake gemaak oor kragkwessies wat sy gebrek aan insig en arrogansie tentoonstel. Al wat ons vir die ESKOM-werkers wil se is: pas julle pensioengeld op!

Wat Transnet betref, kan julle julself gereed maak vir ʼn groot verloor in die howe van Suid-Afrika teen die Transnet-pensioenarisse. Dit sal gepaard gaan met ʼn kredietafgradering. Ons hoop julle het daarvoor begroot, want die pensioenarisse gaan kry wat hulle beskore is.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403