Krieket SA moet waarheid bewys oor bewerings van politieke inmenging

2015-04-01
Adv Anton Alberts

Bewerings en ontkennings oor politieke inmenging voor Suid-Afrika se halfeindstryd in die Wêreldbekertoernooi plaas so ʼn wolk oor Suid-Afrika se sport dat die land se krieketbaas, Haroon Lorgat, sal moet bewys hy het nie aan die span ʼn boodskap in die verband gestuur nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê dit kan net gedoen word indien Lorgat bereid is om ʼn rekord van sy selfoon-aktiwiteite die aand voor die wedstryd openbaar te maak.

Lorgat het volgens talle mediaberigte in die ‘middernagtelike ure’ voor die wedstryd ʼn SMS gestuur aan die afrigter, Russel Domingo, waarin hy gesê daar moet nog ʼn speler van kleur in die span wees vir die wedstryd. Lorgat het dit vandag opnuut ontken.

Adv. Alberts sê indien Lorgat nie hieraan gehoor wil gee nie, sal die VF Plus die Openbare Beskermer (OB) nader om ondersoek in te stel na die aangeleentheid aangesien Krieket SA lid is van die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) wat staatsfondse ontvang om optimale sportdeelname te verseker.

“Indien daar wel inmenging was deur ʼn speler te gebruik wat duidelik nie slaggereed was vir die wedstryd nie, het dit Suid-Afrika moontlik ʼn plek in die eindstryd gekos aangesien nie net een speler se prestasie hier gemeet moet word nie, maar die feit dat die voorval die hele span sou demoraliseer.

“Die ANC is besig om die land en al sy instellings te vernietig. Alles moontlik moet gedoen word om nie ook van ons sport ʼn Eskom te maak nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403