Kinderverkragting en –mishandeling is buite beheer

2014-01-21
Die Redaksie

Kinderverkragting en -mishandeling in Suid-Afrika het ‘n ongekende hoogtepunt bereik, sê raadslid Amanda de Lange, VF Plus-woordvoerder oor vroue-aangeleenthede.

Volgens De Lange toon nie-amptelike statistiek aan dat ‘n kind gemiddeld elke 3 minute in Suid-Afrika verkrag word. Dit sluit nie gevalle van mishandeling in nie.

“Dit is al spreekwoordelik om te sê ’n kind in Suid-Afrika het ‘n groter kans om verkrag te word as om te leer lees.

“Die wreedheid wat daarmee gepaard gaan, soos in die geval van ‘n 9-jarige dogtertjie van Delft-Suid in die Wes-Kaap wat deurnag verkrag en aan die brand gesteek is, stomp mense so af dat dit al byna ongesiens verbygaan.

“Hoewel die Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, mnr. Dan Plato, sy tevredenheid uitgespreek het oor die inhegtenisneming van die beskuldigde, is dit nie goed genoeg nie,” sê De Lange.

Sy sê daar word miljoene rande verkwis op ministers in Suid-Afrika se persoonlike luukshede en plesiertjies, maar aandag word nie geskenk aan voorkomende maatreëls om die kern van die sosiale verval en disrespek vir menselewens te behandel nie. Vroue en kinders is daarom nie meer veilig in hul eie land tussen hul eie mense nie.

“President Jacob Zuma en sy kabinetsministers is horende-doof vir mediaberigte en pleidooie oor die grusame vergrype van weerlose burgers wat onder hul sorg en beskerming is. Lippetaal aan ministers se kant gaan nie die probleem oplos nie.

“Die Vryheidsfront Plus se vrouekomitee lê die morele en sosiale verval in Suid-Afrika vierkantig voor die deur van die regerende party. Minagting vir vroue en kinders het ongekende hoogtes bereik sedert die ANC aan bewind is en die swak leiding in hierdie opsig kan nie verskoon word nie,” sê De Lange.

 

Amanda de Lange

Sel: 071 604 9498