Johannesburg-metro betaal Ericsson R1.2 miljard

2015-08-31
Die Redaksie

Die Stad van Johannesburg gaan R1,2 miljard aan Ericsson betaal as ‘n uitkoop-transaksie vir die beëindiging van ‘n kontrak tussen die twee partye. Dit volg nadat die ANC-beheerde stadsraad dié besluit deur ‘n raadsitting gestoomroller het,” sê rdl. Franco de Lange, VF Plus raadslid in Johannesburg.

“Die Johannesburgse stadsraad het vyf jaar gelede ‘n transaksie met Ericsson gesluit wat deur ‘n maatskappy met die naam CCC bedryf word. Ericsson moes ‘n uitgebreide breëband-netwerk ontwerp en installeer tot voordeel van Johannesburg se gemeenskappe.

Ericsson sou ‘n vyftien jaar verbintenis met die stad hê waartydens die netwerk onderhou en tegnies bestuur moes word.”

Raadslid de Lange, wat deel is van die Ekonomiese-ontwikkelingskomitee, het saam met opposisielede ‘n jaar gelede gevra dat oorspronklike kontrakte en dokumentasie wat tussen CCC, die metro en Ericsson gesluit is, aan die komitee voorgelê word.

Volgens De Lange het die komitee weer die versoek aan die begin van die jaar herhaal toe dit aan die lig gekom het dat ‘n uitkoop-transaksie voorberei word. Tot op hede is geen dokumentasie voorgelê nie.

“Die VF Plus het sy gewig saam met opposisiepartye ingegooi en teen die goedkeuring van die uitkoop-transaksie gestem.”

Die VF Plus vra nou die volgende vrae: Wie gaan nou die netwerk onderhou en bestuur? Daar sal outomaties met ‘n nuwe diensverskaffer onderhandel moet word om die bestuur oor te neem. Dit kan die stad van Johannesburg verdere miljoene kos.

“Wenkbroue lig as sulke belangrike dokumente nie aan die komitee en stadsraad voorsien word nie. Intussen moet staatsfondse aangewend word om dié bedrag te vereffen en indirek word belastingbetalers negatief beïnvloed,” meen rdl. de Lange.

 

Rdl. Franco de Lange

fdelange@vfplus.org.za

082 3583882