Joemat-Pettersson se uitlatings skadelik vir landbou en sy verdien nie om na verkiesing terug te kom nie

2014-04-01
Dr Corné Mulder

Die nuutste uitlatings van die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson dat plaasboere in die Wes-Kaap die grootste skenders van hul werkers se menseregte in die hele land is, is onverantwoordelik en baie skadelik vir goeie verhoudinge in die landbousektor.

Dit is nie die eerste keer dat die minister hierdie soort ongegronde stellings maak ten opsigte van plaasboere in die Wes-Kaap nie. Tydens die kunsmatig opgestookte opstande in De Doorns hetsy met dieselfde uitlatings gekom.

Later sou dit aan die lig kom dat sy van hierdie voorbok organisasies direk befonds het en daarna in die Parlement arrogant aangekondig het dat sy daarmee sal voortgaan. Die minister se strategie en poging is deursigtig, haar politieke onderrok hang uit. Sy wil graag die stemme van plaasarbeiders vir die ANC wen en by gebrek aan 'n beter beleid is al manier om dit te doen om die plaasboere verdag te maak.

Plaasboere in die Wes-Kaap is van Suid-Afrika se top presterende landbouers wat internasionaal met hulle produkte kompeteer. Niemand is ten gunste daarvan dat regte van arbeiders geskend word nie, maar plaasboere het ook regte.

Voedselsekerheid en bestendigheid in die landbousektor is baie belangrik. Die VF Plus doen ’n ernstige beroep op pres. Zuma om indien die ANC die verkiesing sou wen, Joemat-Pettersson nie weer as minister van landbou aan te stel nie. Die plaasboere en plaasarbeiders van Suid-Afrika verdien baie beter.

 

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403