Jag en straf renosterstropers swaarder

2014-09-02
Dr Pieter Mulder

Onverbiddelike polisie-optrede en swaar strawwe teen renosterstropers is nodig om die wit-renosterspesie van uitwissing te red en die VF Plus staan selfs hakkejag-operasies in Mosambiek en ander lande voor as afskrikmiddel, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag in ʼn parlementêre bespreking oor renosterstropery en die impak op die land se erfenis gesê baie moeite word gedoen, en baie geld word bestee om Suid-Afrika se kultuur- en natuurerfenis te bewaar.

Hy sê dit is daarom des te meer tragies dat ʼn mite wat van alle waarheid ontbloot is, hierdie slagting onder die uiters bedreigde spesie veroorsaak.

“Meer as ʼn duisend renosters is in 2013 doodgemaak. Vanjaar trek ons al by meer as sewehonderd. En dit omdat sommige mense bereid is om meer vir renosterhoring te betaal as vir goud omdat hulle glo dat dit sekere medisinale waarde het.

“Navorsing het gewys dat die horing geen medisinale waarde het nie. Indien jy dit self wil toets kan jy jou eie naels vyl en drink. Die uitwerking sal dieselfde wees,” sê dr. Mulder.

Oor die diepgewortelde bygelowe rakende renosterhoring, het dr. Mulder vertel van samesprekings wat hy as adjunkminister van landbou met ʼn minister van Viëtnam oor die onderwerp gehad het. Die persoon het hom geskok deur te vertel van al die medisinale voordele daarvan en hoe dit vir bloeddruk en selfs kanker gebruik kan word.

“Dit is duidelik dat ons ʼn groot opvoedingstaak binne en buite Suid-Afrika het. Benewens strenger optrede en strawwe kan daar ook aandag geskenk word aan die voor-en nadele van ons oorgrens nasionale wildtuin met Mosambiek.

“Die ondersoek na die wettige verkoop van renosterhoring moet ook bespoedig word. Ook hier is ons bewus van die voor- en nadele, maar die krisis is so groot dat dit die moeite werd is om na enige moontlike oplossing te soek,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670