Inter-ministeriële Nkandla-verslag rookskerm om Zuma te beskerm

2013-12-19
Dr Pieter Groenewald

“Die inter-ministeriële verslag oor Nkandla wat minister Thulas Nxesi bekend gemaak het, is niks anders as ‘n rookskerm om pres. Jacob Zuma te beskerm nie. Die ministers word almal in hulle poste aangestel deur Zuma en dit is net logies dat hulle Zuma sal beskerm en sal vryspreek van die skandaal. Hoewel die Openbare Beskermer se verslag nog vrygestel moet word, is die vraag of dit haar volle verslag gaan wees, of ‘n gewysigde verslag. ‘n Regterlike kommissie van ondersoek wat in die openbaar plaasvind, moet aangestel word om die hele skandaal behoorlik te ondersoek, aangesien dit die enigste manier sal wees om behoorlike deursigtigheid te verkry,” sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor openbare werke.

“Daar word ook geskuil agter operasionele koste van R125 miljoen en daar moet gesê word wat daarmee bedoel word. Indien dit die operasionele koste is vir die veiligheidsmagte beteken dit dat belastingbetalers jaarliks R125 miljoen moet opdok om Nkandla op te pas. Dit terwyl die president drie ander ampswonings het wat ook beskerm word. Daar kan met reg gevra word hoekom kan ministers se gesinne verhuis en in ampswonings bly, maar die president se gesin nie. Dit moet ook openbaar word wie die werk by Nkandla gedoen het, wie korrupsie gepleeg het, wie pryse gelaai het en wie belastinggeld gesteel het. Dit is die reg van die publiek om dit te weet,” het Groenewald gesê.

 

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403