Ingryping van VF Plus stop moontlike SEB-vergrype van die SAL by Bidvest

2016-02-08
Adv Anton Alberts

ʼn Moontlike poging van die SAL om die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) te oortree, het gesneuwel nadat die BBSEB-kommissie einde verlede jaar op versoek van die VF Plus die aangeleentheid ondersoek het en die SAL daaroor gekonfronteer het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

SAL het Bidvest verlede jaar glo opdrag gegee om 30% van sy filiaal wat vliegtuigtoilette skoonmaak, oor te dra aan ʼn swartbemagtigingsvennoot van die SAL se keuse.

Bidvest het in reaksie op dié versoek gesê sy filiaal BidAir Services het reeds swart eienaarskap van 63,42% en dat swart vroue ’n belang van 24,85% in die onderneming besit. Dit het reeds die voorgeskrewe SEB-bepalings verreweg oorskry.

In ʼn brief wat die VF Plus pas van die kommissie se waarnemende kommissaris, me. Zodwa Ntuli ontvang het, skryf sy die saak is ondersoek in opdrag van die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, na die klagte van die VF Plus.

Haar antwoord lui onder meer: ‘Ons het die SAL weer ten volle ingelig oor die bepalings van die wet, en dit duidelik gemaak dat enige oortreding van die wet tot ʼn ondersoek en moontlike vervolging kan lei. Ons het in hierdie geval niks onreëlmatigs gevind nie. Ons sal die situasie nogtans monitor.’

Adv. Alberts sê die VF Plus is gelukkig met die feit dat die kommissie die ondersoek op die party se versoek gedoen het en bereid is om die situasie deurgaans te monitor.

“Alhoewel die VF Plus geensins saamstem met BBBEE as opheffingsprogram nie, sal die party nogtans sorg dat die ANC by die letter van sy eie reëls bly en dat nie meer bemagtig word as wat toelaatbaar is nie.

“SEB is inherent ʼn rassistiese instrument wat nie tred hou met die feit dat verarming oor rassegrense heen plaasvind nie. Die VF Plus glo eerder in die bemagtiging van armes deur projekte waar meriete-aanstellings en behoorlike mentorskap die vereistes is.

“Die VF Plus gaan met Bidvest skakel om te verneem of hulle oor enige bewyse beskik dat hulle gedwing was om aan groter bemagtigingsvereistes te voldoen as wat toelaatbaar was. Indien daar sodanige bewyse bestaan sal dit aan die kommissie oorhandig word vir verdere ferm optrede teen die SAL,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403