Hulp gevra vir weduwee van Transnet-pensioenheld

2015-09-29
Adv Anton Alberts

Die VF Plus doen ʼn beroep op mense om hul hand uit te steek na die weduwee van mnr. Johan Kruger, een van die twee eisers in die klasaksie-hofsaak van R79,5 miljard teen Transnet, wat onlangs dood is aan longkanker.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, sê mnr. Kruger was ʼn held vir 66 000 pensioenarisse. Hy was een van net twee mense wat bereid was om in persoon ʼn hofaansoek te doen met die risiko dat ʼn kostebevel teen hom toegestaan kon word.

Die regspan het reeds aangedui dat hy deur ʼn ander persoon as eiser vervang sal word.

Adv. Alberts sê hy het mnr. Kruger gereeld besoek, ook nadat hy reeds ernstig siek was en groot pyn ervaar het. Hy was nooit oor homself besorg nie, maar oor die hofsaak en die lyding van sy mede-pensioenarisse wat, net soos hy en sy eggenote, bittere lyding ervaar het weens geldnood.

Mnr. Kruger het met sy dood net R1 700 as pensioen ontvang. Dit na ʼn loopbaan van 29 jaar as rangeerder vir Transnet waar hy deurgaans tot die pensioenfonds bygedra het.

Adv. Alberts sê enige skenking aan mev. Annetjie Kruger, sal baie waardeer word. Haar besonderhede is: ADW Kruger, Absa-spaarrekening, nr.: 930 905 5010.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403