Hoofdirekteur van ’n staatsdepartement met rassistiese uitsprake rakende Oscar Pistorius-moordverhoor

2014-03-05
Dr Pieter Mulder

Uitsprake van Sandile Memela, hoofdirekteur van die department kuns en kultuur, rakende die Oscar Pistorius-moordverhoor, is skokkend rassisties en die VF Plus sal elke moontlike stap neem om hom tot orde te roep, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder het ‘n artikel gister onder Memela se naam en met sy foto daarby in ‘n bekende nuusblad verskyn onder die opskrif: ‘Oscar would be a hero if Reeva were a black man’.

Hy gaan voort deur te skryf hy wonder of Pistorius ooit in die hof sou gewees het indien hy ‘n swart man doodgeskiet het. Hy skryf onder meer (vry vertaal):

 

  1. ‘Indien hy (Oscar) ‘n swart man doodgeskiet het, sou dit opspraak verwek het?’

  2. ‘…sommige wittes kollekteer vuurwapens om twee dinge dood te maak; diere en swart mense. Wat hierdie skietlustige wit mans aanbetref, is daar soms nie ‘n verskil tussen die twee nie.’

  3. ‘Ek glo nie daar sou ‘n hofsaak gewees het indien hy ‘n swart man van enige ouderdom doodgeskiet het nie. Hy sou eerder as ‘n held beskou word en sou ‘n toekenning ontvang wat sou lui: ‘hier is ‘n man wat ‘n goeie daad verrig het deur ‘n swart dief dood te skiet’.

  4. ‘Dit word verwag van wit mans om swart mans dood te skiet om hul eiendom en geliefde gesinne te beskerm’.

  5. ‘Dit is reg as ‘n wit man wapens koop en versamel om – wanneer hy na bewering uitgelok of gedreig word – dood te skiet. Die swart man is altyd ‘n verdagte, ‘n teiken. Vir die res van die wêreld is dit verstaanbaar en aanvaarbaar as ‘n wit man iemand doodskiet om sy grond, eiendom en gesin te beskerm’.

  6. ‘Ek het geen twyfel nie dat Oscar vergewe sou word indien hy ‘n swart man wat by sy huis ingebreek het, genadeloos doodgeskiet het. Wat is nog ‘n swart man wat vol gate geskiet is omdat hy inbreek? Hy sou net gekry het wat hy verdien. Skiet dood die swart hond!’

Volgens dr. Mulder gaan Memela voort deur onder meer te sê wittes het al die rykdom en swartes breek in omdat hulle arm en honger is. Ook omdat daar ‘n ‘diepgewortelde haat’ onder swart mense is oor grond en mineralerykdom van die land wat wittes van hulle ‘gesteel’ het.

“‘n Mens verwag hierdie uitsprake van niemand in die land nie, en allermins van ‘n senior amptenaar in die staatsdiens. Ons beskou dit as haatspraak in die ergste graad en vorm. Die skade wat sulke uitlatings aan nasiebou aanrig, is onmeetbaar.

“Die VF Plus sal elke stap moontlik volg om te sorg dat teen Memela opgetree word. Ons dring ook daarop aan dat hy onmiddellik geskors word en dat die department sy uitlatings onverwyld ondersoek, sê dr. Mulder.

 

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403