Hernubare energiebronne en nuwe tegnologie moet aarde se kosmandjie in die toekoms vol hou

2013-10-08
Dr Pieter Mulder

“Die benutting van hernubare energiebronne soos wind en sonenergie gaan in die toekoms ‘n groter deel van die landbou-produksiestelsel moet uitmaak,”sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.

Om te sê die wêreld soos ons hom vandag ken, sal nie teen die jaar 2050 genoeg kos kan lewer vir ‘n snel groeiende bevolking en krimpende natuurlike bronne nie, klink onrealisties. Dit is egter die realiteit en daarom is dit nou gebiedend noodsaaklik om alternatiewe metodes te vind om in die toekoms voedselsekerheid te bied aan die planeet se inwoners, volgens Mulder.

Dr. Mulder het vandag op ‘n landbou-sonenergiedag op Keimoes in die Noord-Kaap gesê om dit te vermag is nuwe tegnologie en landboumetodes die enigste uitweg.

“Die verwoestende uitwerking van aardverhitting weens energie-opwekking speel ‘n groot rol in die proses en bied eiesoortige uitdagings vir die toekoms. Projeksies dui daarop dat die aarde se temperatuur in die volgende jare met 5,8 grade Celsius kan styg.

“Ook op hierdie gebied is dit daarom allerbelangrik om antwoorde te vind om die mensdom se oorlewing op aarde te verseker,” sê dr. Mulder.

“Die feite is dat meeste van die bewerkbare grond op ons planeet reeds beplant en vir landbou gebruik word – dit terwyl 10 miljoen hektaar vrugbare en bewerkbare grond jaarliks verlore gaan deur verstedeliking en permanente droogtes.

“Die wêreldbevolking se eise gaan ook veel groter word soos miljoene mense daarin gaan slaag om armoede af te skud en deel van die wêreld se groeiende middelklas te word. ’n Middelklas met spesifieke voedselvereistes.

“Om tot in 2030 aan hierdie groeiende voedselbehoeftes te voorsien sal die wêreld se boere elke jaar 2% meer kos moet produseer - tot 50% meer in 2030. Hierdie produksie moet weer verdubbel teen 2050.

“Dus moet daar in net twintig jaar se tyd die helfte meer van alles geproduseer word as wat tans die geval is. En ‘n mens is amper versigtig om te vra wat in die 50 jaar daarna gaan gebeur,” sê dr. Mulder.

Volgens dr. Mulder is daar nou sowat 1,5 miljard hektaar landbougrond onder produksie in die wêreld. Indien daar op die huidige wyse geproduseer word, sou dit beteken dat ‘n verdere 1,5 miljard hektaar grond teen 2050 vir landbougebruik gevind sal moet word. Dit is ‘n gebied so groot soos Indië.

Die enigste manier om dit te kan doen, sal wees om die wêreld se reënwoude af te kap en dit is vanselfsprekend nie ‘n oplossing nie, sê dr. Mulder.

“Hierdie lyk na ’n onmoontlike probleem en dilemma. Uit die syfers hierbo is dit duidelik dat boerdery, soos ons dit vandag ken, op pad na 2050 duidelik nie die beperkinge van ons planeet en die druk van voedselsekerheid die hoof kan bied nie.

“Is daar ’n antwoord? Ja, tot op datum die afgelope eeu het ons met tegnologie, navorsing en opleiding voor gebly met die verskaffing van voedsel.

“Met tegnologie en navorsing en die deel van kennis deur opleiding, kan die huidige plafonne wat op die produksie van kos bestaan, gebreek word. Daarmee kan meer en meer kos geproduseer word met dieselfde en selfs minder insette.

“Met tegnologie kan die volle potensiaal van plante verder ontsluit word, om meer te groei van minder; om ons voedselvoorraad te verdubbel en alternatiewe bronne van energie te skep sonder om ons skaars waterbronne uit te put en die hoeveelheid koolsuurgas wat ons in die atmosfeer loslaat te verminder.

“Maar dan moet ons daaraan aandag gee en meer geld aan navorsing, opleiding en inligtingsdae soos hierdie oor hernubare energie bestee,” sê dr. Mulder.

 

Dr. Pieter Mulder

Kontaknommers: 082 674 6670; 083 419 5403; (021) 4033802