Held van Transnet-pensioenarisse sterf voortydig

2014-05-23
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het met leedwese verneem van die dood Woensdagmiddag van mnr. Pieter van Rensburg , ‘n hooforganiseerder van Transnet se pensioenarisse, en vuurvreter-leier in die stryd teen Transnet en die regering. Hy is dood weens komplikasies voortspruitend uit ‘n maagsweer.

Adv Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, sê die VF Plus bring hulde aan Van Rensburg wat leiding gegee het in die stryd van verarmde pensioenarisse teen die onreg wat Transnet en die regering hulle aandoen weens die stroping van hul pensioenfondse oor die jare heen.

“Van Rensburg se dood is regstreeks veroorsaak deur Transnet, sy uitvoerende hoof Brian Molefe, asook die regering se ongeêrgde houding teenoor die lyding van die Transnet-pensioenarisse. Het het self swaar gekry en het baie druk op hom gehad weens die leidende rol wat hy in die voortslepende stryd gespeel het.

“Ons glo Transnet gaan boet vir hul dade in die hofsaak op 21 en 22 Julie en die daaropvolgende strafregtelike klagte wat die VF Plus en die pensioenarisse gaan indien teen die persone betrokke in hierdie sage, soos Transnet se leierskap en van die trustees van die Transnet-pensioenfondse.

“Enkele weke gelede het Molefe gesê die pensioenarisse verdien nie ‘n beter lewe nie, aangesien hulle voorheen bevoordeeldes is. Hy het hulle na ‘n optog na die Uniegebou ook gedreig deur te sê indien hulle die revolusie na die strate wil neem, is hy reg vir hulle.

“Molefe sal binnekort uitvind wat dit is wanneer geregtigheid seëvier en hy persoonlik aanspreeklik gehou sal word vir die afsterwe van van die pensioenarisse asook vir sy gewraakte woorde en dreigemente.

“Ons salueer Pieter van Rensburg en gee hom alle eer vir sy heldhaftige optrede vir sy eie mense,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommer: 082 391 3117 / 082 419 5403