Heidelberg (Gauteng) se boere is besorg oor nuwe steenkoolmyn om Eskom te help

2015-09-28
Die Redaksie

Die boere van Elandsfontein aan die suide van Heidelberg soek deurdagte planne en antwoorde van Anglo American Inyosi Coal alvorens hulle ʼn ondergrondse projek gaan toelaat om steenkool aan Eskom se Grootvlei-kragstasie te voorsien, sê Mari Boshoff, VF Plus-stadsraadslid in Lesedi.

Die boere het verlede week ʼn intense vergadering met mynbase gehad en baie vrae is gevra. Hulle het ook daarop aangedring dat korrespondensie tussen die myn en hulle in Afrikaans moet geskied.

Raadslid Boshoff was op die vergadering en praat gereeld met die besorgde boere. “Die beplanning is nog in die begin stadium en daar sal nog redelik tussen boere en mynbase onderhandel moet word voordat die steenkoolmyn ʼn werklikheid word,” het sy gesê.

Boere is veral besorg oor die volgende aspekte:

  1. Presies waar gaan die mynskag gesink word? Volgens Anglo word die skag op Gedeelte 16 van Rietspruitplaas beplan. Die finale aanduiding sal gemaak word wanneer die omgewing-impakstudie afgehandel is.
  2. Die druk verkeersvloei op die bestaande paaie is ʼn bekommernis. Die myn dui aan dat daar ʼn verkeer-impakstudie gedoen word om die omvang van verkeersvloei te bepaal.
  3. Is die nodige impakstudies gedoen? Die myn het die versekering gegee dat hulle impakstudies op die volgende terreine doen - grondwater, lugkwaliteit, geochemiese en afval, verkeer, kultuur en herkoms, ekologie, grond en visuele studies, ens.
  4. Landbougevare soos sinkgate? Die myn sê sodra die studies afgehandel is, sal dit aan die publiek bekend gemaak word.
  5. Vergoeding aan boere vir moontlike grond-, landerye en vee-skade? Onderhandelinge met grondeienaars is belangrik en ʼn goeie buurman-verhouding moet ten alle tye gehandhaaf word. Elke vergoedingsaak (indien dit gebeur) sal deeglik ondersoek en bespreek word.
  6. Hoe gaan die mynaktiwiteite tot voordeel van die gemeenskap wees? Wetgewing bepaal dat Anglo so ver as moontlik plaaslike mense in diens moet neem. Hierdeur kan ʼn ekonomiese oplewing in die Heidelberg-omgewing plaasvind.
  7. Tydsduur rondom die sinking van die skag? Die bepaalde skatting is sowat 18 maande.
  8. Hoe gaan die myn vleilande, die Bavaria en riviere wat deur die myngebied vloei, beskerm. Die riviere voed die Vaaldam? Die myn wag op spesialiste se aanbevelings.

Die area waar die myn beplan word, is een van Gauteng se grootste graan produseerders. Wat is belangriker – die myn of voedselvoorsiening? Die myn is ʼn ondergrondse ontwikkeling en slegs die skag en kantore sal ʼn impak op boere se grond hê. Die myn sal ook met staatsdepartemente in gesprek tree gedurende die besluitnemingsproses.

“ʼn Mynontwikkeling in die hartjie van ʼn groot voedselproduserende gebied word nie altyd met ope arms ontvang nie. Die VF Plus hou die situasie fyn dop,” het rdl. Boshoff na afloop van die vergadering gesê.

 

Mari Boshoff

VF Plus raadslid: Lesedi

072 547 0481