Harde vrae in Nederlandse parlement oor Suid-Afrika gevra

2015-03-05
Dr Pieter Mulder

Indringende vrae word tans in die Nederlandse parlement gevra oor onder meer die stand van demokrasie en diskriminerende wetgewing in Suid-Afrika.

Dit is ʼn direkte uitvloeisel van ʼn artikel wat in die Nederlandse webkoerant, De Dagelijkse Standaard verskyn het (http://www.dagelijksestandaard.nl/2015/02/die-afrikaner-vryheid/) na gesprekvoering tussen dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, en ʼn Nederlandse joernalis, mnr. Dennis de Witte.

ʼn Nederlandse parlementslid, mnr. Han ten Broeke van die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD), het vyf geskrewe vrae aan die betrokke minister gestel wat nou beantwoord moet word. Dit lui as volg:

  1. Suid-Afrika is reeds meer as 20 jaar ʼn demokrasie. Hoe beoordeel u die stand van die demokrasie en die regstaat in Suid-Afrika? Hoe beoordeel u die leierskap van pres. Zuma in besonder?
  2. Nieteenstaande die afskaffing van apartheid in Suid-Afrika, blyk dit dat rassisme nog nie uit die Suid-Afrikaanse samelewing verdwyn het nie. Het die Suid-Afrikaanse regering volgens u erns met die stryd teen diskriminasie, en is daar diskriminerende wetgewing in Suid-Afrika?
  3. Weet u van berigte dat ‘positiewe demokrasie’ in Suid-Afrika op so ʼn manier toegepas word dat baie jong wit mense nie meer ʼn toekoms vir hulself in hul land sien nie en op reuse skaal emigreer? Kan u dit bevestig, en wat is u mening hieroor?
  4. Wat is die situasie rondom die dialoog oor menseregte in Suid-Afrika wat die Europese Raad geïnisieer het?
  5. Hoe beoordeel u die rol van Suid-Afrika as streeksmoondheid in die Afrika-unie en sy rol in vredesendings? Het dit volgens in die laaste jare verander?

Volgens dr. Mulder het De Witte onder meer ʼn aantal vrae oor die situasie in Suid-Afrika aan hom gestuur om te beantwoord. Dr. Mulder het ook enkele artikels wat hy self geskryf het, aan De Witte gestuur.

“By die VF Plus besef ons deeglik hoe belangrik dit is om die wêreld in te lig oor veral diskriminasie teenoor minderhede. Dit waarom ons verlede jaar besoek afgelê het by die Verenigde Nasies (VN) en die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO).

“Ons het daar voorleggings gedoen oor diskriminerende wette soos Regstellende Aksie (RA), die stryd van Afrikaans, plaasaanvalle en grondeise. Dit duidelik dat hierdie veldtog om die buitewêreld in te lig, vrugte afwerp en verskerp moet word,” sê dr. Mulder.

Dr. Mulder sê alhoewel hy die vrae in die Nederlandse parlement verwelkom, is dit kommerwekkend om te sien dat soveel mense in die buiteland, en veral politici, oënskynlik steeds in die duister is oor wat werklik in Suid-Afrika gebeur.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670