Hamas se besoek aan ANC-regering skadelik vir Suid-Afrika se bande met Israel

2015-10-20
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering se gul ontvangs van ʼn senior afvaardiging van die Palestynse organisasie Hamas is roekeloos en sal Suid-Afrika se handelsbetrekkinge met Israel groot skade berokken, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts sê dit is allerweë bekend dat Hamas as ʼn terroriste-organisasie beskou word wat die vernietiging van Israel voorstaan terwyl Israel self na oplossings soek soos die moontlikheid van twee state.

Die afvaardiging is op hoogste vlak ontvang deur pres. Jacob Zuma en senior ANC-ampsdraers.

Luidens vandag se uitgawe van die koerant The Times of Israel, het die besoek aan die regering skokgolwe deur Israel gestuur en is dit skerp gekritiseer deur die Israelse regering en Joodse groepe in Suid-Afrika.

Die berig meld dat ʼn Israelse regeringswoordvoerder, Emmanuel Nahshon, gesê het die ANC wys met sy optrede goedkeuring van terrorisme. Dit is terselfdertyd ʼn klap in die gesig van die groter internasionale gemeenskap wat Hamas as ʼn terreurgroep beskou.

Volgens adv. Alberts is die ANC se optrede ʼn skande wat Suid-Afrika se aansien in die internasionale gemeenskap net verder sal laat daal. Die feit dat die regering so openlik kant kies, sal ook veroorsaak dat sy rol as mediator in onderhandelinge tussen Israel en die Palestyne ondermyn word.

“Dit is bekend dat Israel begerig is om met Suid-Afrika saam te werk, veral op die gebied van tegnologie en met die uitruil van kennis en ontwikkeling. Hierdie roekelose optrede van die ANC sal dit in die wiele ry,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403