Gwede Mantashe-uitsprake grens aan Godslaster

2013-11-04
Adv Anton Alberts

Die herhaalde uitsprake van ANC-leiers dat dié party en lidmaatskap daarvan met christelikheid en saligheid gelyk stel kan word, kan nie langer geduld word nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake.

“Vorige uitlatings soos dat die ANC sal regeer tot die oordeelsdag, en dat ‘n ANC-lidmaatskapskaart jou die saligheid sal besorg, was ewe onsmaaklik.

Volgens adv. Alberts is dit skokkend dat ‘n politieke organisasie soos die ANC homself Bybelse en christelike status kan toe-eien.

“Sedert sy geskiedenis as terreur-organisasie tot vandag waar hy as regerende party vir die publiek sinoniem geword het met korrupsie, bedrog, magsbeheptheid en openbare wanorde, is dit duidelik dat die ANC ‘n mistasting met die uitsprake begaan.

“Onder die party se bewind het misdaad, geweld en moord buite beheer geraak. Sosiale waardes verval. Ekonomies word die land met regstellende aksie groot skade aangedoen.

“Die uitlatings van Mantashe grens aan Godslastering. Leiers van die land se grootste christelike kerkgroepe het ook teenoor die VF Plus hul misnoeë oor die uitlatings te kenne gegee en hulle daarvan gedistansieer.

“Die ANC gaan sonder twyfel ‘n prys betaal vir uitlatings soos hierdie en die disrespek en minagting wat sy leiers daardeur teenoor elke christen in Suid-Afrika toon.

“Dit is tekenend van die ANC se heerskappy van byna twintig jaar wat nou soos ‘n boom geword het waarvan die wortelstelsel totaal gesterf het en die vrugte verrot is.

“Opbouende kritiek teen die ANC en sy leiers is van ‘n publiek wat nie langer bereid is om die afgrond in regeer te word nie. Om kritici op hierdie wyse te intimideer, wys hoe moreel bankrot die organisasie is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommer: 082 391 3117