Guptas moet kostes betaal weens nie-vervolging van offisiere oor landing op Waterkloof

2015-01-20
Dr Pieter Groenewald

“Die Guptas moet alle regskostes en verdere siviele eise betaal na die besluit van die weermag om alle klagte teen lt.kols. Christine Anderson en Stefan van Zyl terug te trek in verband met die onwettige landing van die Gupta-gaste op Waterkloof in 2013. Indien die twee offisiere slaag met siviele eise moet die Guptas ook die koste dra en nie die belastingbetalers nie,” sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

“Die terugtrekking is bewys dat die weermag onskuldiges beskuldig het om die regte sondebokke te beskerm en om pres. Zuma se aandeel toe te smeer. Die toesmeerdery was laakbaar en toon dat alles gedoen sal word om Zuma te beskerm van magsmisbruik. Om die die weermag aanspreeklik te hou vir kostes sal beteken dat die belastingbetalers aanspreeklik gehou word. Dit is onregverdig en daarom moet die Guptas opdok want hulle het Waterkloof gebruik.

“Die Gupta-sage op Waterkloof en die Nkandla-skandaal is voorbeelde waar amptenare “geoffer” word om te betaal vir Zuma se blapse. Die voormalige hoof van staatsprotokol, Bruce Koloane, is destyds net gedemoveer en later beloon met ʼn ambassadeurspos in Nederland. Dit kom neer op korrupsie,” het Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403