Goeie onderwys die sleutel om werkloosheid te verminder

2014-06-06
Adv Anton Alberts

Goeie onderwys sal werkloosheid verminder en is inderdaad die goue sleutel om Suid-Afrika se enorme ekonomiese potensiaal te ontsluit tot voordeel van almal in die land, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts sê hy is dit heeltemal eens met die uitlatings van Pali Lehohla, statistikus-generaal van Suid-Afrika, dat goeie onderwys belangrik is om meer produktiewe landsburgers te skep en dat jeugdiges met Matriek ‘n veel beter kans staan om werk te kry as die daarsonder.

“Lehohla beaam hier dat die pad na werk deur goeie onderwys gaan. Maar gegewe ons swak onderwysstelsel sal meeste mense slagoffers van werkloosheid bly en dis die skuld van die ANC wat almal onderhewig maak aan swak onderwys, veral wat betref wiskunde en wetenskap.

“Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, moet in besonder skuld aanvaar vir soveel kinders wat nie hul skoolloopbaan voltooi nie, asook vir ‘n stelsel wat sertifikate uitdeel wat beswaarlik die papier werd is waarop dit gedruk is.

“Daar is te lank voortgegaan om te eksperimenteer met uitkomsgerigte onderwys selfs nadat dit duidelik was dat dit misluk het. Voeg hierby die gebrekkige kurrikulum en infrastruktuur, of gebrek daaraan, en dit is duidelik waarom iemand soos die statistikus-generaal die land se werkloosheid en swak ekonomiese groeikoers met basiese onderwys in verband bring.

“Dit is noodsaaklik dat vinnige aanpassings gemaak moet word om alle skole tot die prestasievlakke van die land se Afrikaanse skole te bring. In hierdie stadium is dit duidelik waarom al hoe meer mense hulle na tuisonderrig wend,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403