Gesprekvoering is nodig oor nasionale gedenkwaardighede en nie eensydige optrede nie

2015-04-17
Dr Pieter Mulder

Gesprekvoering en ‘n eerlike poging van al Suid-Afrika se inwoners om mekaar se gevoelens te respekteer, is nodig om die kwessie rondom kultuurhistoriese gedenkwaardighede te beredder, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag in sy toespraak by Vryheidspark in Pretoria gesê sy gewaarwording is dat baie van die goeie verhoudinge wat oor die laaste 20 jaar opgebou is, binne net drie weke ongedaan gemaak is deur skadelike politiek waar historiese simbole gebreek en beskadig is.

Die blitskonferensie by Vryheidspark is gereël deur die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, om alle rolspelers die kans te gee om hul mening oor die saak te lug.

Volgens dr. Mulder lui die ANC se Vryheidsmanifes dat Suid-Afrika aan al sy inwoners behoort, wit en swart, maar die boodskap wat nou uitgestuur word, is dat die bydrae en belasting van minderhede soos die Afrikaner goed is, maar nie hul erfenis en kultuur nie.

ʼn Voorbeeld van hierdie eensydige en selektiewe geskiedenis is die Durban-lughawe wat na die King Shaka-lughawe hernoem is. Koning Shaka sou vandag beswaarlik die Nobelprys vir Vrede ontvang het, maar as stigter van die Zoeloe-nasie moet ek sy plek in ons geskiedenis respekteer.

“Ek beskou Paul Kruger as die stigter van die Afrikanernasie en hy is een van my helde. Hy was ʼn vryheidsvegter teen Europese kolonialisme en imperialisme en ek vra dieselfde respek teenoor hom,” sê dr. Mulder.

Dr. Mulder het vyf voorstelle genoem om die saak in almal se belang te beredder:

  • Die beskadiging van standbeelde en kultuurskatte is ʼn misdaad en die polisie moet streng hierteen optree;
  • Leiers van alle kante speel ʼn belangrike rol in die goeie verhoudinge tussen mense en moet ʼn voorbeeld stel met hul uitsprake;
  • Suid-Afrikaners moet deeglik opgevoed word in ʼn gebalanseerde geskiedenis wat alle kante gelyk behandel;
  • Beelde moet bygevoeg word om ʼn balans te bring en tevredenheid onder almal te verseker. Die wegneem van beelde gaan net wrywing veroorsaak; en
  • Hierdie sake moet met wedersydse empatie en met inagneming van mekaar se gevoelens bespreek word.

Dr. Mulder sê die tyd het aangebreek vir alle nugterdenkende en verantwoordelike Suid-Afrikaners van alle gemeenskappe om saam te staan teen radikalisme wat dit ten doel het om die land te vernietig.

“Mense wat ander se standbeelde en kultuurskatte vernietig, stel nie belang in vreedsame naasbestaan en ʼn toekoms vir almal in die land nie,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670