Gesprekke in ANC-binnekringe wys dat regering nie 'n ‘goeie storie’ het om te vertel nie

2015-03-18
Adv Anton Alberts

Die ANC moet nou ophou om aan sy kiesers ʼn ‘goeie storie’ voor te hou terwyl die regering en sy hoogste amptenare wel deeglik bewus is van die haglike situasie waarin die Suid-Afrikaanse ekonomie hom bevind, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Notules oor die lekgotla wat die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) in Januarie gehou het, toon aan dat die regering self bekommerd is oor die krisis waarin die land op feitlik elke gebied verkeer. Van kragvoorsiening, wat nog vir die volgende drie jaar ‘ernstige onderbrekings’ kan ondervind, tot werkloosheid en landbou.

Die minister van finansies, Nhlanhla Nene, het kaalvuis ingeklim en die gesê die ANC is inderdaad mede-verantwoordelik vir die ekonomiese krisis en stadige groeikoers wat tot werkloosheid en armoede bydra.

Mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het erken dat landbou met hulp ʼn reuse bydrae kan lewer tot die land se totale inkomste. Hy het gesê landbou dra tans net 2% tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) by terwyl dit die potensiaal het om 12% by te dra.

Mnr. Jeff Radebe, minister in die presidensie, het erken dat werkskepping in die private sektor feitlik tot stilstand gekom het en dat daar feitlik net werk in die openbare sektor geskep word. Hy erken ook dat die land steier onder werksverliese, en veral die 122 000 poste wat in die eerste kwartaal verlede jaar verlore gegaan het.

Oor kragvoorsiening het Radebe gesê dit is die ‘enkele grootste probleem’ wat ekonomiese groei aan bande lê en dat ‘ernstige kragonderbrekings’ nog oor die volgende drie jaar kan voortduur.

Hy sê daar is ‘geen opsie’ om instandhouding te verbeter nie en maniere moet net gevind word om die impak so lig moontlik op die ekonomie te maak. Hy sê ook daar moet besef word die situasie is ernstig en daar kan nie bloot aangegaan word asof dit ‘business as usual’ is nie.

Adv. Alberts sê dit blyk duidelik uit dié dokument dat die ANC en die president die land doelbewus mislei deur voortdurend ʼn goeie prentjie voor te hou terwyl hulle weet hoe kritiek die situasie is.

Die ANC skuld Suid-Afrika en sy mense ʼn verskoning. Die VF Plus sal die ANC in die parlement hieroor konfronteer en vra om oop kaarte te speel oor die ware omvang van die land se probleme,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403