Geld val deur sif in Noordwes se departement van plaaslike regering

2015-11-12
Die Redaksie

Noordwes se departement van plaaslike regering het feitlik sy totale begroting bestee (99,9%), maar net 56% van sy doelwitte is bereik. Daar moet dus antwoorde verskaf word oor waar byna die helfte van die geld heen verdwyn het, sê mnr. Hannes Schutte, wetgewerslid van die VF Plus in Noordwes.

Mnr. Schutte sê ʼn voorbeeld is program 4 van behuisingsontwikkeling waar R1,557,495,000 van die begrote R1,557,530,000 bestee is. Meer as 800 huise wat gebou moes word, is egter nie gebou nie.

Hy sê informele nedersettings is nie opgradeer ingevolge die begroting nie en die vestiging van landelike behuising is nie gedoen nie. Vir die beplanning en voorsiening van tegniese behoeftes is R57,735,000 begroot en R56,104,000 is bestee, maar slegs 8 van die 15 doelwitte is bereik.

“Die Ouditeur-Generaal (OG) wys op verskeie onreëlmatighede soos dat die departement ongemagtigde uitgawes van R261,015,000 aangegaan het in vorige finansiële jare. Net vir 2014/15 is die totaal R670,000 waaroor nog geen stappe geneem is om dit reg te stel of skuldige amptenare te vervolg nie.

“Die indruk by die VF Plus is dat daar nou finansiële amptenare is wat weet dat die begroting gebruik moet word, maar nie omgee hoe dit gedoen word nie en daarom het ʼn kultuur ontstaan van ‘bestee die geld want dit is daar’.

“Die departement het ook gedurig senior amptenare wat net in ʼn waarnemende hoedanigheid aangestel word. Die verskoning is dat vaardige kandidate nie beskikbaar is nie. Dus word besluite geneem deur onkundige en onervare waarnemende amptenare. Dit skep ʼn onhoubare situasie wat hom leen tot korrupsie en bedrog.

“Hierdie stand van sake veroorsaak dat die diens wat die departement aan plaaslike regerings moet verskaf, eenvoudig nie voldoende is nie en daarom is Noordwes se plaaslike regerings in die gemors waarin hulle is,” sê mnr. Schutte.

 

HANNES SCHUTTE (LPW)

Sel: 079 838 6587 / 076 400 8132