Gee aandag aan swak skole en onderwysers en los skoolname

2015-03-26
Adv Anton Alberts

Die LUR vir onderwys in Gauteng wat sekere skole se name wil verander en 'n ‘regsmening’ daaroor wil inwin, kan sommer by die VF Plus gratis regsmening oor die ongeldigheid daarvan kry, sê adv. Anton Alberts, Die VF Plus se Gautengse leier en parlementêre woordvoerder vir basiese onderwys.

Adv. Alberts sê Panyaza Lesufi, die LUR, voer aan hy wil die name van skole wat na ‘apartheidsleiers’ vernoem is, verander om ‘sosiale kohesie’ in die provinsie te bevorder, maar dat hy presies die teenoorgestelde doen deur wrywing en polarisasie te skep wat tans nie bestaan nie.

Hy sê Lesufi moet eerder aandag gee aan kwessie wat noodsaaklik is in sy sukkelende onderwysdepartement deur die gehalte van skole in informele nedersettings te verbeter en ʼn plan te beraam met onderwysers wat onbevoeg en gereeld afwesig is.

“Die pogings om Suid-Afrika se geskiedenis uit te vee en verdraai herinner aan die optrede van die Islamitiese Staat (IS) wat geskiedkundige plekke vernietig wat nie by hul geloof inpas nie.

“Dit sal ʼn tragiese fout wees om selektief te werk te gaan met Suid-Afrika se geskiedenis aangesien dit juis vir alle partye die geleentheid bied om te leer uit die lesse van die verlede,” sê adv. Alberts.

Hy sê die land se Skolewet bepaal duidelik dat skole se beheerliggame skole bestuur en besluite neem oor dinge soos die skool se naam. Die staat besit nie die skole nie, dit behoort aan die gemeenskap wat die skool bedryf.

“Dit sal mense soos die LUR ook loon om aandag te skenk en erns te hê met Suid-Afrika se verpligtinge teenoor die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte.

“Suid-Afrika het die verdrag op 3 Oktober 1994 onderteken en dit is op 10 Desember 1998 bekragtig soos voorgeskryf deur die land se Grondwet.

“Hoe langer die ANC-regering gaan aanhou om internasionale verdrae en voorskrifte oor menseregte en die regte van minderhede te vertrap, hoe meer gaan hy hom vestig as die muishond van die wêreld.

“Dit is duidelik dat die ANC toenemend sy onbevoegdheid en groeiende ongewildheid probeer verdoesel agter hierdie soort populisme wat uiteindelik in sy gesig sal ontplof as daar nie meer standbeelde of name oor is om mee weg te doen nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403