Gautengse LUR vir onderwys by Ouditeur-Generaal aangekla oor ondermyning van onderwysbegroting

2015-10-28
Adv Anton Alberts

Gauteng se laaste onderwysbegroting maak dit duidelik dat ʼn groot deel van die fondse vir infrastruktuur aangewend moet word, en die uitsprake van die provinsie se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, dat daar nie meer skole gebou moet word nie, ondermyn dié proses, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys en leier van die VF Plus in Gauteng.

Die VF Plus het daarom ʼn brief gerig aan die Ouditeur-Generaal (OG) van Suid-Afrika waarin gevra word dat die aangeleentheid ondersoek word aangesien die wanbesteding van fondse ʼn oortreding is van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (Wet 1 van 1999).

Volgens adv. Alberts is dit wyd in die media (kyk Netwerk24) gerapporteer dat Lesufi onder meer sou sê daar is genoeg skole in Gauteng om alle leerlinge in die provinsie te huisves en dat bestaande skole veertig leerlinge per klas moet plaas om dit te bereik.

Dit sal volgens hom nie net die probleem van te min skole uit die weg ruim nie, maar sal ook sorg dat daar nie meer ‘sogenaamde Xhosa-, Afrikaanse- of Zoeloe-skole is nie, maar slegs “African schools”.

Adv. Alberts sê dit is ironies dat Lesufi se ideaal oor ‘African schools’ sal neerkom op slegs Engelse skole aangesien Engels as verstektaal gebruik sal word wanneer verskillende taalgroepe in een klas saamgevoeg word.

In sy brief aan die OG sê adv. Alberts onder meer Lesufi se uitlatings en beleidsverandering is blote politieke opportunisme wat daarop gemik is om moedertaalonderrig uit te wis nieteenstaande die Grondwet se waarborge vir onderrig in enige van die amptelike tale, én nieteenstaande navorsing wat wys op die voordele van moedertaalonderrig.

Hy sê die wet maak dit duidelik dat fondse slegs aangewend mag word vir waarvoor dit goedgekeur is en dat Lesufi se optrede neerkom op ʼn oortreding van die wet.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403