Gauteng-onderwys se aanslag teen Afrikaans gaan nie oor geld

2015-04-29
Adv Anton Alberts

Die druk op Afrikaanse skole in Gauteng om as ʼn sogenaamde besparingsmaatreël hul deure vir Engelssprekendes oop te maak en sodoende dubbelmedium te word, het niks met geld te make nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys en provinsiale leier in Gauteng.

Adv. Alberts sê die uitsprake van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, dat Afrikaanse skole ‘onderbenut’ is en met leë klaskamers staan terwyl die departement nie geld het om ekstra skole te bou nie, is ʼn oneerlike rookskerm om Afrikaans uit skole te dwing aangesien die onderwysdepartement verreweg die grootste deel van dié provinsie se begroting kry.

Hy sê Gauteng se LUR vir finansies, Barbara Creezy, het in haar begrotingstoespraak verlede maand klem gelê daarop dat onderwys in dié provinsie voldoende fondse kry om te funksioneer.

Sy het altesame R42,2 miljard van Gauteng se totale begroting van R95,3 miljard aan onderwys toegeken. Hiervan is R2,6 miljard vir die ‘uitbouing van infrastruktuur’ juis om voorsiening te maak vir die groeiende aantal leerders, het Creezy in haar toespraak gesê.

Volgens adv. Alberts blyk dit hieruit duidelik dat Lesufi nie eerlik is met die mense van Gauteng oor sy ware motiewe nie.

“Hy kry bykans 45% van Gauteng se totale begroting, en byna R3 miljard net vir infrastruktuur. Dan wil hy ʼn hele provinsie se skole verengels net oor die bewering dat ʼn paar klaskamers dalk leegstaan?

“Hierdie bewering is in elk geval van alle waarheid ontbloot. Almal weet van die reuse druk wat daar reeds op Afrikaanse skole is om leerders van ander gebiede in te neem.

“Dit is duidelik dat Lesufi Afrikaanse skole teiken as deel van die groter politieke veldtog wat die ANC op elke terrein, en in besonder in die onderwys, teen Afrikaans voer.

“Dit druis in teen elke leerling se grondwetlike reg om onderwys in sy eie taal te ontvang, en die VF Plus sal elke poging van skoolgemeenskappe en beheerliggame steun om hierdie deursigtige poging tot die verengelsing van skole teen te staan,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403