Erfenisdag 2015 - Gee erkenning aan mekaar

2015-09-24
Dr Pieter Mulder

“As die goeie mense uit alle gemeenskappe bymekaar kom, gaan ons hierdie land ʼn wonderlike land vir al sy mense maak. As die slegte mense uit alle gemeenskappe bymekaar kom, dan moet ons ons regmaak vir konflik en geweld en die geleidelike vernietiging van Suid-Afrika,” het dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus,by ʼn Erfenisdag geleentheid in Benoni gesê.

Die geleentheid is gereël deur ʼn plaaslike gemeenskapsorganisasie KMCC.

“Erfenisdag is ingestel as ’n geleentheid om erkenning te gee aan die ryke verskeidenheid van kulture en erfenisse wat ons in Suid-Afrika het. As die dag op die regte manier gevier word, sal dit lei tot groter respek en begrip vir mekaar. Daardeur word die verskeidenheid van Suid-Afrika ’n positiewe bate en nie ’n las en ’n bron van konflik nie.

“As sommige gemeenskappe egter voel dat hulle erfenis, geskiedenis en helde onder druk geplaas word, minderwaardig geag word of geïgnoreer word, sal die teenoorgestelde bereik word,” volgens Mulder

Daar is net een antwoord vir hierdie probleme: Laat ons mekaar se kulture respekteer; laat ons mekaar se erfenis respekteer en laat ons ruimte maak vir mekaar se helde.

“As ons na Suid-Afrika en rondom ons kyk word ons dikwels moedeloos oor die toekoms. Ongelukkig as die Suid-Afrikaanse skip sink, sink ons almal saam. As die Suid-Afrikaanse bos brand, gaan party bome nie oorgesien word nie maar almal gaan brand. Ek kan sê ek gaan niks doen nie, maar ʼn Christen het ʼn roeping om ʼn verskil te maak. Een persoon, op die regte plek en tyd kan ʼn groot verskil maak. Elke geslag kan egter net sy deel doen en sorg vir ʼn stewige fondament waarop ons kinders en die geslagte na ons moet bou. Natuurlik gaan daar terugslae wees, maar daar is ʼn groot verskil tussen ek is ʼn mislukking en ek het drie keer misluk,” het Mulder mee afgesluit.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670