Enige Sanral-boete sal onwettig wees weens ongesertifiseerde e-tol-meetinstrumente

2016-02-25
Adv Anton Alberts

Dreigemente van organisasies wat Sanral se e-tolgeld moet invorder oor die moontlike vervolging van nie-betalers, kan in Sanral se gesig ontplof aangesien die VF Plus reeds bewys het dat die meetinstrumente wat in die e-tolstelsel gebruik word, nie gesertifiseer is soos die wet vereis nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts het hom aangesluit by OUTA deur daarop te wys dat ʼn enkele mislukte poging tot vervolging in die hof, Sanral se totale kaartehuis in duie kan laat stort aangesien die presedent dan geskep sal wees.

Hy sê die VF Plus het Sanral reeds daarop gewys dat hy nie aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voldoen nie.

Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het aan die VF Plus bevestig dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie.

“Dit is daarom duidelik dat enige poging van Sanral om geld in te vorder, bloot op grond hiervan onwettig sal wees. Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus ongrondwetlik is.

“Die VF Plus het op aanbeveling van die Verbruikerskommissie ʼn afspraak vir 3 Maart vanjaar met Sanral gemaak om die onwettigheid van die meetinstrumente met hulle te bespreek.

“Indien ons nie daar bevredigende antwoorde kry nie, sal die VF Plus voortgaan met stappe teen Sanral ingevolge die Wet op Verbruikersbesteding,” sê adv. Alberts.