E-tolstelsel: VF Plus in koalisieregering in Gauteng kan groot voordeel vir inwoners van die provinsie inhou

2014-05-02
Adv Anton Alberts

Die VF Plus sal as deel van ‘n moontlike opposisie-koalisieregering in Gauteng sorg dat die provinsiale regering van Gauteng die ANC-regering op nasionale vlak hof toe neem om e-tol ongrondwetlik te laat verklaar en te skrap, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementslid en premierskandidaat vir Gauteng.

Volgens adv. Alberts sal die provinsiale regering sodoende ‘n sterk hefboom word om die belange van Gauteng se inwoners te beskerm teen immorele belasting en sal dit nie meer nodig wees om regsfondse elders te gaan vind om die ANC-regering teen te staan nie.

“Die VF Plus kan ‘n groot koalisievennoot vorm vir so ‘n opposisie-regering in Gauteng aangesien peilings wys dat die VF Plus wesenlik groei in Gauteng.

“Die VF Plus onderneem dus om as deel van so ‘n koalisieregering belasting soos e-tol en ander provinsiale belastings af te bring tot voordeel van die inwoners en besighede van Gauteng. Hierdie is net moontlik indien die DA nie in koalisie met die ANC gaan soos hulle aangedui het hulle moontlik gaan doen nie.

“Daarom hoop ons dat die DA nie die opposisiekiesers sal verraai deur met die ANC te regeer nie, maar eerder saam met ander partye,” sê adv. Alberts.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403