E-tolpaneel se aanbevelings raak nie kern van die probleem aan nie

2015-02-06
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het vandag by Gallagher Estate in Midrand waar die e-tolpaneel se bevindinge onder leiding van die Gautengse premier, David Makhura bespreek is, dit duidelik gestel dat die oplossing wat die paneel aanbied naamlik ʼn hibriede befondsingsmodel, eintlik ʼn louwarm oplossing daarstel wat nie gaan byval vind by die inwoners van Gauteng nie.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer en provinsiale leier in Gauteng, sê dié voorstel beteken bloot dat motoriste steeds e-tol gaan betaal, maar net volgens ʼn ander model.

Volgens adv. Alberts het hy duidelik gestel aan die paneel dat dié voorstelle fundamenteel nie die kern van die probleem aanspreek nie, naamlik dat die stelsel geen politieke legitimiteit het nie aangesien dit verwerp word deur die meerderheid van Gauteng se inwoners.

Hy sê dit ignoreer die feit dat e-tol ʼn simptoom van ʼn groter probleem is, en dit is die heffing van hoë belastings in ruil vir swak of geen dienslewering deur die staat. Die weiering om e-tol te betaal is vir die meeste mense ʼn manier om ʼn sein aan die regering te stuur dat hulle nie gelukkig is oor hoe die regering belastinggeld bestuur en aanwend nie.

Adv. Alberts het aan die paneel en verteenwoordigers van die Gautengse provinsiale regering gesê die sowat R30 miljard wat elke jaar verlore gaan weens korrupsie, en die sowat R30 miljard en meer wat verlore gaan weens vrugtelose en onreëlmatige uitgawes, moet eerder aangespreek word as om bykomende belastings soos e-tol te hef.

“Indien die regering net een jaar se korrupsie bekamp, sal hy in staat wees om al Sanral se skuld op een slag te delg. Daarom moet ons teruggaan na die eerste beginsel van die Grondwet wat dit baie duidelik stel dat die staat regverdige, deursigtige en effektiewe kwaliteitsdiens aan die publiek moet lewer.

“Daardie verpligting op die staat word elke dag deur onkundige en skelm staatsamptenare verbreek terwyl die ANC-regering se stappe om dit te bekamp, geen vrugte afwerp nie. Dit word eerder elke jaar net erger,” sê adv. Alberts.

Hy sê die staatsdienskommissie se verslag en die tesourie se oorsigverslag oor publieke aankope bevestig hierdie tendense. Die Instituut van Interne Ouditeure het pas ook bekend gemaak dat die ANC-regering volgens hulle navorsing sowat R700 miljard oor die laaste twintig deur wanpraktyke verlore laat gaan het.

“Daarom sê die VF Plus dat daar moreel geen verpligting op Gautengers is om e-tol te betaal tot die regering sy huis in orde kry nie. Die VF Plus, wat deel is van die Tolkhek-Aksiegroep oftewel TAG, gaan met ander organisasies soos OUTA koördineer sodat die verset teen die e-tolstelsel nog groter kan word.

“Die VF Plus wil ook ʼn beroep op kiesers doen om in 2016 die ANC uit alle Gautengse stadsrade te skop sodat die VF Plus in ʼn opposisiekoalisie dispuut kan verklaar oor e-tol teen die Gautengse provinsiale regering en die nasionale regering,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403