E-tol soos 'n kanker wat uit die stelsel verwyder moet word

2014-10-10
Adv Anton Alberts

 

Die e-tolstelsel is soos ʼn kankergewas in die hoofslagaarstelsel van Suid-Afrika se ekonomiese spil en het ʼn verlammende effek nie net op die provinsie van Gauteng nie, maar op die land as geheel en moet daarom uit die stelsel verwyder word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts het vandag in sy voorlegging aan die adviesraad oor die sosio-ekonomiese impak van e-tol gesê president Jacob Zuma het sedert 2011 elke jaar klem gelê op die belangrikheid van werkskepping, maar die regering self voer verskeie aksies uit wat werkskepping en ekonomiese groei teëwerk.

“Die realiteit in vandag se Suid-Afrika is dat samewerking, soos nog nooit in die land gesien is nie, nodig is tussen die regering, die private industrie en gewone landburgers om die ekonomie te stimuleer. Hierin moet die regering die leiding neem.

“Die teenoorgestelde gebeur egter en die regering is besig met verskeie aksies wat dui op ʼn gebrek aan beplanning en koördinasie aangesien dit die private industrie en die burgers se vermoë om tot die proses van werkskepping en groei saam te werk, ondermyn.

“Vier faktore wat die Suid-Afrikaanse samelewing in sy geheel raak is, brandstof, elektrisiteit, belasting en faktore soos korrupsie wat die totale stelsel ontwrig.

“Saamgevoeg hierby is ʼn nuwe, verskuilde vorm van belasting in die vorm van die Gautengse e-tolstelsel wat die lewe stelselmatig uit die provinsie en die land wurg. Hierdie stelsel is soos ʼn kankergewas strategies geleë in en om die ekonomiese vervoer-slagaarstelsel van die ekonomiese spil van die land,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts is die negatiewe effek van e-tol so groot dat dit ʼn ‘black swan’ genoem kan word. Iets waarvan die vernietigende effek eers met nabetragting duidelik word.

“Die VF Plus het reg van die begin gewaarsku dat hierdie e-toleend wat die goue eiers moes lê, in werklikheid ʼn ‘black swan’ is. Hierdie raad se werksaamhede vandag is ʼn bewys daarvan dat ons die hele tyd reg was.

“Die 120 000 stemme wat die VF Plus in 2012 met ʼn petisie ingesamel het (80 000 na ʼn oudit), is ʼn bewys dat daar wyd ag geslaan is op die party se waarskuwings en die publiek se sterk teenkanting teen e-tol.

“Ons doen ʼn beroep op die regering om nou die regte ding te doen en hierdie stelsel te skrap om sodoende hierdie remskoen van die land se inwoners en sy ekonomie te verwyder,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts is die VF Plus se voorlegging baie positief ontvang en het die raad aan hom gesê dit gee aan hulle baie stof tot nadenke.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403