E-tol is besig om agteruit te boer

2014-12-12
Adv Anton Alberts

Dit is vir die VF Plus duidelik dat die Gautengse e-tolstelsel volgens die regering se eie bekentenis besig is om stelselmatig in duie te stort, sê adv. Anton  Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Luidens ‘n geskrewe parlementere antwoord het die minister van vervoer aangedui dat tot en met 30 September vanjaar reeds 93 292 padgebruikers hul e-skyfies gederegistreer het sedert die e-tolstelsel aangeskakel is.

Adv. Alberts sê dit is ‘n enorme hoeveelheid padgebruikers wat in minder as een jaar die legitimiteit van die stelsel bevraagteken het. Hy sê indien die tendens voortduur, sal Sanral elke jaar sowat 100 000 betalende padgebruikers verloor met die gepaardgaande inkomste aangesien diegene wat gederegistreer, nie meer e-tol betaal nie.

'n Verdere aanduiding van die finansiële onvolhoubaarheid van die stelsel asook die gebrek aan legitimiteit by die breë publiek is dat die minister ook aangedui het dat net die helfte van die maandelikse gebruikers van die e-tolpaaie geregistreer is vir e-skyfies.

Net sowat 1 254 502 padgebruikers is geregistreer uit sowat 2,5 miljoen padgebruikers per maand. Gegewe die proses van deregistrasie sal die geregistreerde padgebruikers toenemend begin afneem, sê adv. Alberts.

“Hierdie siening word verder onderskraag deur die maandelikse inkomste wat Sanral ingesamel het vanaf Desember 2013 tot en met September 2014. Die minister het in haar antwoord aangedui dat die kontant-inkomste van e-tol vanaf Desember 2013 ‘n styging getoon het van R51 781 845.57 tot ‘n hoogtepunt van R120 192 738.78 in Junie 2014.

“Van daardie punt af het die inkomste ‘n sterk afname getoon tot en met die bedrag van R86 663 144.53 in September 2014. Dit dui daarop dat diegene wat deregistreer, ook ophou betaal. Indien hierdie tendens voortduur, sal ‘n kritieke punt van onvolhoubaarheid bereik word met ‘n gevolglike inploffing van die stelsel. Dit sal lei tot verdere kredietafgraderings van Sanral.

“Dit sal dus vir die ANC-regering wys wees om sy hardkoppigheid te laat staan en so gou doenlik die moontlikheid van ‘n tydelike brandstofheffing te oorweeg wat gestaak kan word sodra Sanral se skuld vereffen is,” sê adv. Alberts.

Die Tolhek Aksiegroep (TAG), waarvan die VF Plus ‘n lid is, sal, sodra die Gautengse e-tol paneel se verslag oor die sosio-ekonomiese impak van die e-tolstelsel op Gauteng bekend gestel is, besin oor verdere hofaksie teen die ANC-regering om die e-tol stop te sit.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403