Dr. Pieter Mulder: In Suid-Afrika se parlement moet woorde gebruik word, nie swaarde

2015-03-19
Dr Pieter Mulder

Opposisieleiers het vandag ʼn verenigde front gevorm teen die gebruik van polisie en geweld in die parlement.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het in dié verband gesê die historiese gebruik van swaarde om geskille te besleg, is verby en dat daar deesdae met ‘woorde geveg word’.

Dr. Mulder het gesê bestaande parlementêre reëls is voldoende om orde en dissipline te handhaaf en dat vryheid van spraak in die parlement baie belangrik is.

Oor die EVV se ontwrigting van prosedures het dr. Mulder gesê dié party rek bestaande reëls tot hul uiterste.

“Ons kan net nie toelaat dat die parlement disfunksioneel raak nie. Die moontlikheid van ʼn toegewyde polisiemag soos dié van die Vatikaan kan moontlik as oplossing oorweeg word, maar dan moet duidelike riglyne vir sy pligte en verantwoordelikhede neergelê word,” het dr. Mulder gesê.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670