Dood van Meyiwa 'n wekroep op ANC om te erken misdaad is buite beheer

2014-10-28
Dr Pieter Mulder

Die moord op Sezo Meyiwa, sokkerkaptein van Suid-Afrika, is ʼn tragiese refleksie op die misdaadsituasie in Suid-Afrika en die VF Plus betuig sy medelye met die naasbestaandes van die begaafde sportster wat sy land op die hoogste vlak verteenwoordig het,” sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

“Dit is jammer dat ʼn treurspel soos hierdie die vergrootglas moet plaas op die buitengewoon hoë vlakke van misdaad en geweld waaraan elke persoon in die land onderwerp is, en op die regering se oënskynlike onvermoë om sy burgers te beskerm.

“Dit is ook jammer dat die regering steeds nie bereid is om te erken dat misdaad in die land buite beheer is nie. Verlede maand het die polisiehoof, genl. Riah Phiyega, aangekondig dat 47 mense per dag in Suid-Afrika vermoor word. Volgens haar is dit nie ʼn krisis nie.

“Die VF Plus verskil hiermee met die kommissaris. Misdaad het lank reeds krisisafmetings aangeneem. Elkeen van daardie 47 mense wat daagliks vermoor word, is ʼn mens met geliefdes en dalk ʼn gesin. Soos Meyiwa is hulle nie net ʼn nommer nie.

“Die regering moet nou erken dat misdaad, en veral kontakmisdaad, feitlik buite beheer is. Daadwerklike stappe sal onverwyld geneem moet word om wetsgehoorsame burgers weer veilig in hul eie land te laat voel,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670