Doen en late van Nasionale Bemagtigingsfonds moet nou oopvlek word

2013-09-30
Adv Anton Alberts

Die Nasionale Bemagtigingsfonds (NBF) is ‘n oop beursie vir ryk swart mense met ANC-verbintenisse en dit het nou tyd geraak dat dié fonds se bedrywighede tot op die been oopgevlek word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Volgens adv. Alberts is die jongste skok by die NBF die bewerings van bedrog en korrupsie wat luidens berigte die fonds se hoof-uitvoerende amptenaar, me. Philisiwe Mthethwa, betrek. 

Mthethwa is glo met ‘spesiale verlof’ vir die duur van die ondersoek.

In nog ‘n skok het dit onlangs aan die lig gekom dat die fonds drie jaar gelede ‘n lening van R9,8 miljoen aan Mthethwa se broer, Nkanyiso Buthelezi, toegestaan het. Luidens berigte is nog nie ‘n sent van die geld terugbetaal nie.

Mthethwa is die vrou van Nathi Mthethwa, minister van polisie.

Adv. Alberts sê die fonds en die bevoordeling van ‘n klein aantal swart rykes daarmee, is ‘n klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner, veral dié wat geldelik swaarkry, asook dié wat werklik hulp nodig het om ‘n sake-onderneming te begin.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die NBF se toekenning van meer as R34 miljoen aan die swart sakevrou Khanyi Dhlomo, vir die finansiering van haar eksklusiewe boetiek Luminance, in Hyde park, Johannesburg.

“Die vraag moet ook gevra word wie die ondersoek teen mevrou Mthethwa gaan doen indien die bewerings van ongerymdhede wel waar is. Die onverkwiklike situasie gaan nou ontstaan waar die minister mense moet aanstel om bewerings teen sy eie vrou te ondersoek.

“Dit kan nie weggeredeneer word dat so ‘n ondersoek, teen die agtergrond van daaglikse berigte van korrupsie en toesmeerdery op hoogste vlak, die publiek nie sal oortuig nie.

“Die staat sal hier moet ingryp en die publiek van Suid-Afrika deeglik inlig wat die afgelope jare met die fonds gebeur het en wie daardeur bevoordeel is.

“Verlede week is bekend gemaak dat die NBF die afgelope boekjaar R290 miljoen weens slegte skuld op lenings afgeskryf het. In die vorige boekjaar was die bedrag R105 miljoen.

“Dit kan voortduur nie. Die NBF is niks anders nie as ‘n geldtrog wat deur Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) geskep is om sekere mense te bevoordeel.

“Die VF Plus dring daarop aan dat die fonds onmiddellik gesluit word en dat ‘n liggaam geskep word wat alle mense in die land, wit en swart, help om lewensvatbare ondernemings te bou in belang van die ekonomie van die hele Suid-Afrika,” sê adv. Alberts.

 

Adv. Anton Alberts

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403