Dienspligtiges bly op databasis as militêre veterane

2014-02-26
Dr Pieter Groenewald

“Die direkteur-generaal van die department Militêre Veterane, mnr. Motumi, het vandag weer eens teenoor my bevestig dienspligtiges wat op die databasis van militêre veterane is, sal nie daarvan verwyder word nie. Dit volg op my direkte skakeling nadat, Mbulelo Mmusi, woordvoerder van die department, verklaar het dat die department van voorneme is om 16 000 dienspligtiges se name van die databasis te verwyder. Die Wet op Militêre Veterane (18 van 2011) se omskrywing van ‘n militêre veteraan is baie duidelik en dienspligtiges kwalifiseer,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Verdediging van die Vryheidsfront Plus.

“Regulasies is nou gepubliseer wat die middeletoets bepaal om te kwalifiseer om sekere voordele te ontvang. Artikel 2 van die wet bepaal wel dat die blote voldoening aan die definisie van ‘n militêre veteraan, jou nie geregtig maak op voordele in terme van die wet nie. Art. 3(c) van die Wet bepaal dat so persoon ook ‘n middeletoets moet slaag om voordele te ontvang. Die regulasies bepaal byvoorbeeld onder andere om te kwalifiseer vir behuising en subsidie van vervoer, moet die aansoeker minder as R125 000 per jaar verdien. Daar sal dus ook hieraan voldoen moet word om die voordeel te ontvang,” het Groenewald gesê.  

 

 

Kontaknommer: 083 627 4397