Die misbruik van Sanral-toerusting om padgebruikers te intimideer moet stopgesit word

2014-07-01
Adv Anton Alberts

Die VF Plus maak ten sterkste beswaar teen die misbruik van Sanral-toerusting deur die Johannesburg Metro en ander verkeers-eenhede aangesien dit die wanindruk skep dat motoriste weens e-tol vervolg kan word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts het die minister van vervoer in ‘n parlementêre vraag gevra waarom Sanral-toerusting soos skandeerders en sleepwaens met die e-tol-logo by gewone verkeers-padversperrings gebruik word en waarom beamptes motoriste vra of hulle vir e-tol geregistreer is aangesien dit nie wetlik verpligtend is nie.

Luidens die antwoord maak die Gautengse Department van Gemeenskapsveiligheid (GDGV) slegs gebruik van Sanral se toerusting om hul pligte behoorlik uit te voer en dat die samewerking gegrond is op die beginsel van samewerkende regering.

Die minister het wel duidelik daarop gewys dat Sanral self of sy aangewese agent geen wetstoepassingsaksies mag uitvoer nie. Padgebruikers mag nie in Sanral-operasies gestop of genader word nie en daar mag nie boetes aan hulle uitgereik word nie.

Adv. Alberts sê die VF Plus is nie tevrede met die antwoord nie, aangesien daar net op ‘n behoorlike regsgrondslag interdepartementele samewerking kan wees.

“Die e-tol toerusting skep gewis die indruk dat mense vir e-tolskyfies vervolg word. Dis ‘n wanvoorstelling deur die staat en intimideer padgebruikers. Dit behoort nie plaas te vind nie en moet onverwyld stopgesit word,” sê adv. Alberts.

Op ‘n vraag waarom verkeersbeamptes motoriste uitvra of hulle geregistreer het vir e-tol, het die minister die versekering gegee dat dit nie gedoen mag word nie en het gesê die publiek kan enige sodanige voorval aanmeld by die polisie of die GDGV en die betrokke beampte verkla.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403